← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Die lewe se wagkamers

Wat is jou ervaring van ‘n wagarea in die spreekkamer van ‘n dokter, tandarts of dalk ‘n terapeut?

Wat is jou ervaring van ‘n wagarea in die spreekkamer van ‘n dokter, tandarts of dalk ‘n terapeut? Alhoewel ek my altyd voorneem om baie koel en kalm voor te kom, is dit nooit die geval nie. Ek is onseker of die ontvangspersoneel dit kan agterkom, maar my binnegoed bewe onbeheersd! Ek poog altyd om die een te wees wat vrot van die vrolikheid voorkom, maar ek misluk elke keer. Ek groet abnormaal sag en die ontvangsdame is meestal nie geintereseerd in my emosies nie. “Waarmee help ons?” kom dit gewoonlik nogal bruusk uit. Dis wanneer ek onthou dat ek nie ‘n hele weerberig moet lewer nie, maar die behoefte kort en kragtig moet uiter. Om daar te sit en wag is ‘n pyniging wat die meerderheid van sou kon vertel, as iemand net met mekaar wou praat! O aardetjie tog, soveel van ‘n gefluister of akute stilte het een senuweeagtige mens lanklaas gehoor! Of nie. Ek was onlangs saam met vriende in ‘n wagkamer. As toeskouer is dit nogal ‘n meer gemoedelike belewenis. Dan neem jy ander waar, want die kortisol sit nie tot in jou benoude keel jou hele neurologie vol nie. Dié dag was dit meestal gesonde vroue wat hulle siek mans ondersteun het. ‘n Wonderlike prikkeling van liefde en lewe het my hart gevul. Hoe kosbaar is dit om te kan omgee! Ja, die ideaal is om uit die wagareas van die lewe te bly! Leef, eet, drink en gesels gesonde inhoud!

Voer die drie belangrike take uit, soos deur Simon Sinek voorgestel: Inspireer ander met jou doelwitte, neem verantwoordelikheid vir jou gesondheid en plaas die fokus op gesondheid as ‘n spansport en deel van ‘n gemeenskap deur jou leefstyl met ander te deel. Die feit bly staan dat ek en jy die meeste tyd met onsself deurbring. Waarom is dit so moeilik om vir onsself lief te wees? Om vir onsself goeie keuses te maak? Om vir onsself die beste te wil najaag? “Die mens is ‘n tropdier,” word gesê. Ons doen nie almal goed met alleen-wees nie. Dalk is dit hoekom dit so moeilik is, want die invloed van ander is die hele tyd teenwoordig. Wat dink jy? Hoe voel jy? Wat sou jy? In plaas daarvan dat ons die JY met EK vervang, want dan het ek net myself om kwalik te neem as dit ‘n swak keuse is? Eina! Daardie beeld in die spieël jaag my alweer. Die EK aan wie ek verantwoording moet doen. Die EK wat voor, tydens en na ‘n ervaring die stukke moet optel. Vir Vrouemaand wens ek vir elke vrou ‘n gebalanseerde spieël, ‘n gebreekte skaal, ‘n engelvriendin, ‘n positiewe ingesteldheid en ‘n afwesige wagkamer. Respekteer jouself en eer die Vader vir sy goedheid en guns. Mag jou koffie stomend bly en die aroma vir jou ‘n hupstoot gee. Jy is GENOEG! Spreuke van Salomo 31:10 Wie sal ‘n deugsame vrou vind? Want haar waarde is ver bo korale.

Voorblad van Koerania -Augustus 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2026, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar