← Gemeenskap

· Deur Dia van Staden

Besoekersmening: Johan van Wyngaardt se Orania-wegbreek – Januarie 2026

Redakteur, Dia van Staden, het met besoeker, Johan van Wyngaardt gesels oor sy ervaring as gas in Orania.

Johan van Wyngaardt
Johan van Wyngaardt

Redakteur, Dia van Staden, het met besoeker, Johan van Wyngaardt gesels oor sy ervaring as gas in Orania. Orania: Die perfekte wegbreek vir die Van Wyngaardts. Vir Johan van Wyngaardt (38) en sy vrou, Elizma, is daar geen beter plek om die nuwe jaar te begin as langs die kabbelende water van die Oranjerivier nie. Die egpaar van Bloemfontein, wat die besigheid JJ Kaste en Houtwerk bedryf, het van 3 tot 9 Januarie 2026 by die gewilde Suikerbekkiehuisie in die Aandie-Oewer-vakansieoord tuisgegaan. ’n Tradisie van ontspanning. Sedert 2019 is Orania die Van Wyngaardts se gunsteling bestemming. Hulle wag nie net vir die groot vakansies nie; dikwels besluit hulle op ’n Saterdagmiddag om sommer net in die pad te val. Hul resep vir sielrus is eenvoudig: die netjiese omgewing, die skoon strate en die opregte vriendelikheid van die mense. Vir ’n besige entrepreneur in die konstruksiebedryf is dit die ideale ontsnapping van die alledaagse gejaag. Meer as net ’n vakansie Wat die kuier vir Johan besonders maak, is die kombinasie van natuur en gemeenskap. "Ons geniet die stilte en die rivier, maar die braai en die gesels met almal is eintlik die lekkerste," vertel hy. Hulle hou nie hul ontdekking vir hulleself nie; daar is byna altyd vriende of familie, soos sy skoonma, op sleeptou. Volgens Johan is die dorp se aantrekkingskrag onmiskenbaar: "Daar was nog nooit iemand wat saam met ons gekom het wat nie weer wou terugkom nie." Die geheim van Orania Johan glo dat ’n vinnige deurtog nie genoeg is om die ware gees van die dorp te snap nie. Hy beveel aan dat besoekers ten minste twee of drie aande oorbly om die vriendelike atmosfeer, veiligheid en natuurskoon ten volle te ervaar. Deur "kuier-kuier" deur die winkels te stap, ontdek ’n mens gereeld nuwe mense, nuwe juweelplekkies, uitbreidings en projekte wat getuig van ’n groeiende gemeenskap. Hoewel hy die vroeëre jare se jetski-huur as ’n hoogtepunt onthou, is die huidige aanbiedinge meer as genoeg om hulle besig te hou. Vir Johan is daar geen rede om die dorp te verlaat vir vermaak nie. Met ’n positiewe uitkyk op sy werk en lewe, pak hy 2026 met mening aan, wetende dat sy volgende Orania-ruskans net om die draai is.

Voorblad van Koerania - Januarie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2026, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar