
As joernalis het ek vroeg in my loopbaan geleer om nooit mense op grond van hul besluite te oordeel nie; elkeen het die reg om te bly waar hul wil, te werk waar hul wil en ook om hul vriende te kies ongelukkig nou nie ons familie nie - maar dit is 'n storie vir 'n ander dag. Ek was altyd 'n bietjie bang vir Orania, omdat ek konserwatief-liberaal is - as ek nou my eie ideologie moet etiketteer. Ek was bang vir 'n vuishou of twee (Burger van Orania ek koes maar vir jou reusehande), vir oordeel of 'n spreekwoordelike klap in die gesig omdat ek dalk nie 'n regte Afrikaner is nie. Ek is besig om 'n boek oor die Afrikaner van 2026 se skryf wat teen Oktober 2026 op die rakke behoort te wees - en Orania was ook in my pen se ink. Ek weet nie wat het ek verwag toe ek en my man Orania vroeg in Maart binne ry nie - dalk 'n spul rassiste, dalk karakters uit Andre P. Brink se Duiwelskloof. Ek het myself egter voorgeneem om nie enige vooropgestelde idees te hê nie, maar om mense te ontmoet en te luister. Ek het nie Utopia gevind nie, maar mense. Ek het nie rassiste gevind nie, maar doodgewone goeie mense. Ek het nie oordeel gevind nie, maar gasvryheid en baie drukkies. Sal ek in Orania gaan woon? Ek dink nie so nie, want ek hou van die stad se liggies. Ek hou van 'n multikulturele samelewing en werksplek. Maar weereens, ons almal het keuses. En ons moet leer om mekaar se keuses te respekteer. Orania het my oë vir baie dinge oopgemaak: die grootste daarvan liefde en aanvaarding.”




