
So breek Orania en Orania Aandeleblok (RF) (Eiendoms) Beperk (OAB) se 35ste jaar aan. 35 jaar van genade en seën waaroor ons diep dankbaar is. Tans beleef ons, soos die res van die wêreld, ‘n ekonomie wat knyp en daarom is OAB se projekte vanjaar ten eerste gerig op goeie onderhoud van infrastruktuur. Met goeie onderhoud kom ‘n mens baie ver, al is pype meer as 60 jaar oud! OAB se eerste groot projek vir vanjaar is die voltooiing van die opgradering van die serwituutpad danksy ‘n ruim bydrae van die Stadsboufonds. Die eerste gedeelte van dié pad is teen einde 2025 geteer en maak reeds ‘n enorme verskil. Ons is diep dankbaar dat ons met eie Orania-hande al die rugbreekwerk kan doen, maar veral vir die vaardighede waaroor die manne beskik en die mooi standaard waarop die pad gebou is. By die oksidasiedamme is ‘n elektriese aansluiting in die vooruitsig, wat ‘n voorbereiding is vir die volgende fase van ontwikkeling waar meganiese komponente en toerusting gebruik sal word. Hoewel daar aanvanklik nie vir ‘n elektriese aansluiting beplan is nie, het sake verander met die totstandkoming van Orasol, Orania se eie energie-instelling, wat reeds volhoubare krag voorsien en wat beplan om in die toekoms elektrisiteit teen uiters billike tariewe aan inwoners beskikbaar te stel. Slikbeddings by die oksidasiedamme kry aandag om sodoende die slik beter te uit te droog en te bestuur. ‘n Groot projek is om die Grondgebruiksbestuurskema oor die Orania-oorlegsone vanjaar in werking te stel. Straatnommers sal aandag kry en interne prosesse, in die besonder aansoekprosesse by die afdeling Beplanning en Grondgebruik, gaan so ver as moontlik gedigitaliseer word. ‘n Hoogtepunt waarna uitgesien kan word, is die Ekonomiese Ontwikkelingsplan vir Orania. Ons vertrou dat dit in die eerste kwartaal van 2026 afgehandel sal word. Teen die einde van 2025 het die direksie van OAB goedgekeur dat 2026 ‘n jubeljaar in Orania sal wees. Dit beteken dat aandeelhouers in OAB die geleentheid kry om herstrukturering van belange in aandeleblokke, veral binne regsentiteite se groepstrukture en binne familieverband, teen verlaagde koste kan doen. Ons is dankbaar dat ons vanjaar die besparing van oordrag- koste kan aankondig. Maar, dit is veral ‘n jubeljaar omdat ons weet dat ons vrygemaak is in Jesus Christus en dat ons op God alleen moet vertrou. Dit lê op my hart dat ons, as ‘n volk, sal terugkeer na ons Verlosser en dat ons in alles eers na Sy wil sal vra en dít dan sal doen. My bede is dat 2026 vanjaar ‘n jubeljaar en ‘n genadejaar in Orania sal wees. God het reeds in Sy groot barmhartigheid vir ons die tyd en ruimte geskenk waar ons Hom kan dien. Hy het ons reeds in Hom vrygemaak en Hy is besig om ons as ‘n volk te herstel. Mag elkeen in Orania vanjaar sy roeping tot eer van ons Almagtige Vader uitleef. Hier, in Orania se 35ste jaar!




