← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

10 Vrae aan Lynice de Beer

SPRANK is eintlik my persoonlikheid — dis wie ek is en wat ek uitstraal.

Lynice de Beer
Lynice de Beer

1. Hoe het jy op die naam SPRANK vir jou besigheid besluit?

SPRANK is eintlik my persoonlikheid — dis wie ek is en wat ek uitstraal. Ek was nog altyd ’n positiewe mens wat die glas half vol sien, graag glimlag en in die goeie in mense glo. Mense het oor jare vir my gesê ek het ’n sprankelende persoonlikheid wat ’n plek kan ophelder. Met die begin van my besigheid het ek besef dat as jy ’n kind van God is, kan jy nie anders as om te sprankel nie. So het die naam SPRANK ontstaan — oorspronklik uit die woord sprankel.

2. Wat is die korttermynplanne vir jou besigheid?

Ek wil my huidige kliënte se handelsmerke só sterk maak dat hulle sigbaar skitter en sprankel, sodat mense onmiddellik weet wat hulle doen en waar om hulle te kry. Ek fokus nie op kwantiteit nie, ek fokus op kwaliteit. Daarom gee ek doelbewus persoonlike aandag aan elke kliënt en hul besigheid se behoeftes, waardes en groei.

3. Watter geleenthede sien jy vir jou persoonlike en professionele ontwikkeling?

Persoonlik wil ek bly groei in balans. Ek wil hê my lewe moet wys dat ek ’n kind van die Here is — dat Hy eerste kom, dan my gesin, en dan my besigheid. Professioneel glo ek vas dat God die grondslag is waarop my hele onderneming gebou is. Ek leer voortdurend nuwe vaardighede aan, woon kursusse by en brei my kennis uit — soos byvoorbeeld die Invigilator-opleiding vir die vliegskool, wat iets heeltemal nuuts en baie opwindend was. Ek leer ook baie by ander mense in dieselfde bedryf.

4. Wat is die grootste uitdaging wat jou besigheid tans in die gesig staar? Wat doen jy om dit te oorkom?

Tydsbestuur is waarskynlik die grootste uitdaging wanneer jy ’n eenvroubesigheid bedryf. Ek werk met gestruktureerde beplanning, inhouds-kalenders en deeglike navorsing — selfs tot op watter dag en tyd ’n plasing die meeste impak gaan hê. Soms beteken dit ’n vroeë oggend plasing. Soms is dit ná kantoorure. Maar as dit my kliënt se sigbaarheid kan versterk, is ek bereid om daardie ekstra paar minute te gee. Ek probeer my bes om gesinstyd te beskerm, maar soms moet mamma vinnig agter die rekenaar inskuif terwyl pappa en die kinders in die huis is.

5. Wat is vir jou die kernbeginsels wat jy aanwend om ’n besigheid se handelsmerk uit te dra?

Konsekwentheid. Egtheid. Duidelikheid. ’n Handelsmerk moet herkenbaar wees, maar ook menslik. Ek glo nie aan “net mooi” nie — daar moet strategie agter elke plasing wees. Ek leer ook my kliënte as mense ken. Agter elke handelsmerk is ’n gesin, opoffering en harde werk. Daarom bou ek langtermynverhoudings en werk met respek en toewyding aan elke besigheid se groei.

6. Wat doen Lynicé en haar gesin in hul vrye tyd?

Ons is maar rustige plaasmense. As ons saam op ’n trekker kan klim of tussen die diere op die plaas kan wees, is almal gelukkig. Soms ry ek sommer saam met my man tussen die lande om te kyk dat die spilpunte reg is. Die kinders geniet dit om fiets te ry en ons honde-kinders gaan natuurlik oral saam — as die bakkie se deur oopgaan, spring almal in! Alles wat ons doen, sien ons as kosbare gesinstyd.

7. Watter drie waardes is vir jou belangrik in jou besigheid?

Vertroue. Eerlikheid. Christelike waardes. As mense jou hul handelsmerk toevertrou, dra jy verantwoordelikheid. Ek glo aan eerlike kommunikasie, integriteit in besigheid en ’n waardestelsel wat nie verander wanneer dit moeilik raak nie.

8. Raak dit nie vir jou eensaam om ’n eenvroubesigheid te bedryf nie?

Ek werk alleen, maar ek werk nie in isolasie nie. Ek skakel daagliks met kliënte, kreatiewe vennote en die gemeenskap. Ek sien dit eerder as onafhanklikheid as eensaamheid. Ek kry energie uit die mense met wie ek saamwerk.

9. Waaraan meet jy sukses?

Ek meet nie sukses aan geld of die hoeveelheid kliënte nie. Ek meet dit aan terugvoer — daardie e-pos wat jou in trane laat omdat ’n kliënt dankbaar is vir jou omgee en passie. Soos enige mens twyfel ek soms in myself, maar wanneer iemand sê jy maak ’n werklike verskil in hul besigheid, weet ek ek doen wat ek veronderstel is om te doen.

10. Waarom moet besighede van jou dienste gebruik maak?

Omdat ek nie net ’n diens lewer nie — ek raak betrokke. Ek leer my kliënte en hul besighede ken en dra hul groei en sigbaarheid na aan die hart.

Voorblad van Koerania - Maart 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Maart 2026, bladsy 8

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar