
1.Wanneer het jy en Andries Orania toe gekom en hoekom?
Andries het in 2019 pakket gekry by Exxaro en ander werk vir sy ouderdom was skaars. Ek het my ma en pa versorg wat beide in 2020 oorlede is. Andries het in September 2019 saam met sy pa Orania besoek en hy was smoorverlief op die plek. Desember 2019 het hy my hierheen gebring en net daar het ons besluit dis ons toekoms. Na my pa se afsterwe en gedurende Covid het ons opgepak en Mei 2020 was ons sak en pak met ñ karavaan gehaak in Orania.
2. In watter deel van Orania woon julle en het julle laat bou of klaar geboude huis gekoop?
Met ons besoek in Orania 2019 het ons ñ erf op die oewer van die Oranjerivier gekoop en dit was ñ uitdaging vir Andries om self ons nessie te bou. Ons het vir 5 maande in die karavaanpark gewoon maar duidelik nie die uitdagings van Orania se temperature geken nie en die bouwerk het stadig gevorder aangesien Andries en sy pa alleen alles gedoen het. Die oplossing was om ñ woonstelletjie naby ons erf te huur waar ons vir 5 jaar knus gewoon het en soos ons fondse gehad het, verder gebou het. Tot ons skok is die huurplekkie verlede jaar November verkoop en moes ons vinnig planmaak. Andries en skoonpa het binne 2 maande ons oewerhuis leefbaar gemaak en vanaf einde Januarie "kamp" ons tog te lekker in ons eie huis.
3.Waar werk jy? Hoe lank al?
Ek werk sedert September 2020 by die Orania kliniek en sal dit vir niks verruil nie!
4.Is die lewe in Orania maklik?
Orania is vol uitdagings. In ons "vorige lewe" was 2 salarisse, medies, pensioen, gerief, winkels en hospitale ons normaal... maar geen veiligheid en vrede nie, dit vind jy net hier. Skielik is ons tevrede met stof, grondpaaie, ver ry vir tandarts en dokters (wat ons intussen hier by ons gekry het). Self arbei met huis bou is rof, jy maak planne omdat net 4 hande alles doen en groot drome word kleiner om by die finansies aan te pas.
5. Wat van Orania maak dit ‘n wonderlike keuse vir voornemende inwoners?
Dis ‘n familie onder 1 sambreel. Jou eerste water in jou huis, ‘n boompie wat jy pamperlang en hy groei uiteindelik, jy kry ‘n boks in jou stoor waarna jy lank gesoek het.... niemand buite Orania verstaan dit nie. ‘n Motor wat jy nie sluit nie, ‘n fiets wat voor die huis bly lê, ‘n pikdonker nag buite waarvoor jy nie bang hoef te wees nie... DIS ONS VREDE.
6.Wat kort in Orania om ‘n volhoubare gemeenskap te dien?
Ons het werksgeleenthede dringend nodig. Fabrieke, voedselverwerkings, groenteplase vir vars produkte!
7.Wat van Orania se aktiwiteite of jaarlikse funksies geniet jy die meeste en hoekom?
Kaalvoetkonsert, Plaasbraai, Orania gaan groot, Karnaval en beslis die Tuin tot tafel is van die hoogtepunte.
8.Wat is jou “motto”?
Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (dit was ook my ma se motto)
9. Wat sou jy in so ‘n klein dorp wou verander of aanspreek om meer mense na die dorp te trek?
Beslis werksgeleenthede!
10.Wat is jou 5-jaar plan – vir jouself?
5 jaar plan.... ons is steeds in Orania. Alles wat ons het en is, is net genade van Bo!




