Meer as 35 Oraniërs tussen die ouderdomme van 7 en “meer” het die Oranjerivier se waters op 13 Julie by die ingang van Sandbaai, ‘n gewilde visvang en kuierarea, aangedurf.
Die jaarlikse Winterswem, soos dié malligheid bekendstaan, word vroegoggend in minus grade met ‘n groot vuur en, vir die ouer swemmers, soete dapperdruppels of koffie afgeskop.
Die gebibber rondom die vuur het al harder geword terwyl die leiers met motiverende woorde en uitdagings vol dapperheid die groep bemoedig en voorberei het. Toe die gewraakte kreet opklink was dit deur klappertande kliphard geskree.
Oud en jonk het van hul lae klere rondom die vuur begin afstroop. Die woord is deur die ere-presidente van Winterswem, Lukas van der Merwe, Joost Strydom en Frans de Klerk gespreek voordat die hele groep die water om 07:00 stuk-stuk betree het.
Hier en daar kon daar gille van koue, wat die byna warm liggame tref, gehoor word. Gou was die hele groep staande in die rivier. Die volgende uitdaging was om vir een sekonde kop-en-al onder die water in te sak, en daarna moet elkeen nog 60 sekondes bly staan voordat uitgeklim mag word.
Die oe’s en a’s was helder van die water se kant af gehoor. Almal het hul na handdoeke, klere of die warmte van die vuur se vlamme gehaas. Hulle het dit gedoen! Nou kon daar gespog word met sukses.
Tot volgende jaar!