“Elke vlag vertel ’n storie” en vandag word dié stories ook by die Voortrekkermonument (VTM) vertel na die South African Vexillological Association (SAVA) vandeesweek ’n nuwe tuiste in die VTM-argief gekry het.
Die VTM-argief by die Erfenissentrum is ’n skatkis van kultuur, taal en geskiedenis en hiérdie nuwe SAVA-versameling is ’n ongelooflike toevoeging tot hierdie ryk erfenis.
Dr. Bruce Berry, tesourier en sekretaris van SAVA, sê elke vlag vertel ’n storie en hy is baie dankbaar dat die joernale, tydskrifte, navorsingsdokumente én 66 vlae uit ons land se geskiedenis, van hul organisasie nou by die VTM kan wees, waar dit aan die breër publiek beskikbaar gestel kan word.
“SAVA is in 1990 gestig en sedertdien het ons werklik waardevolle werk gedoen in die ontwikkeling van vlagkunde, daarom is ons baie dankbaar dat hiérdie nalatenskap vandag kan voortleef by die VTM,” sê Berry.
“Ons hoop dat meer mense hier by die monument blootgestel kan word aan die wonder van vlagkunde.”
Berry het spottend gesê hy is baie dankbaar vir die TV-karakter Sheldon Cooper wat op The Big Bang Theory veksilologie aan die wêreld blootgestel het met sy vlog of videopodgooi, Fun with Flags, en hy hoop die vlag-gogga sal hier by die monument meer jongmense byt.
Berry het verder verduidelik dat een van die oudste vlae in die wêreld die Deense vlag is wat reeds in 1219 ontwerp en gemaak is en vandag wapper die vlae van 193 onafhanklike lande regoor die wêreld – Elk met sy eie storie.
“Daar is soveel vlae op aarde, selfs meer as die 193 onafhanklike lande in die wêreld; sportspanne het vlae, militêre afdelings, besighede, selfs wanneer jy hier by die monument inry, wapper daar ’n VTM-vlag aan die paal en as mens eers hierdie verhale begin ontdek, gaan daar ’n nuwe wêreld van kultuur en geskiedenis vir jou oop.”
Berry moedig ook oud en jonk aan om betrokke te raak by SAVA. Loer gerus op hul webtuiste vir meer inligting: https://www.savaflags.org.za/
Zabeth Botha, argivaris by die VTM, sê hierdie toevoeging tot die museum en argief is van onskatbare waarde en sy wil almal uitnooi om hier by die monument aan te klop en te begin navorsing doen oor hul eie geskiedenis en interessanthede soos die SAVA-versameling.
Kontak Zabeth@kultuurtuiste.org.za om ’n afspraak te maak om die argief te besoek.