Annamarie van der Merwe
Toegepaste kreatiwiteit … ʼn frase wat ek nog nie voorheen gehoor het nie, maar nou nie sommer sal vergeet nie. Tydens ʼn toneelwerkswinkel wat oor twee dae gestrek het, is toegepaste kreatiwiteit verduidelik en beklemtoon terwyl verskeie aspekte van uitvoerende kunste bondig, maar besonders leersaam, bespreek is.
Dr. Chris Vorster was die aanbieder van die werkswinkel op 1 en 2 November wat deur Koerania se Dia van Staden in Orania gereël is. Hy is tans ʼn senior lektor by die Universiteit van die Vrystaat se drama-afdeling waar hy sedert 2015 werksaam is. As Suid-Afrikaner, gebore in 1970, matrikuleer hy in 1987, voltooi sy militêre diensplig en studeer drama aan die Universiteit van Stellenbosch en verwerf ook sy meestersgraad. Dit word later opgevolg met ʼn doktorsgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is bekend as skrywer, akteur en regisseur en verwerf verskeie toekennings oor die afgelope 30 jaar op al hierdie terreine. Miskien is hy by meeste bekend as Ryno Lategan in die destydse sepie, 7de Laan en ook meer onlangs vir sy boeke oor die lewe van Frans Marx en Marius Weyers.
Dit gebeur dikwels dat persone met so ʼn indrukwekkende CV soos dr. Vorster, nie daarin slaag om hul kennis in verteerbare porsies aan ander oor te dra nie. Dit was geensins hierdie keer die geval nie. Die oordrag van kennis was só effektief dat die kursusgangers verseker vir eers versadig gelaat is, maar só heerlik kon smul dat hul verseker ook lusgemaak is om hierdie leerproses verder te voer.
En dit is waar toegepaste kreatiwiteit ter sprake kom. Kreatiewe prosesse moet, nes ʼn tuin, bemes word om groei teweeg te bring. Wanneer iets nie gevoed word nie, sterf dit. In ʼn groot mate kan gesê word dat kreatiwiteit nie iets is wat aangeleer word nie, maar ongelukkig iets is wat vergeet word. Hierdeur word bedoel dat omstandighede en stelsels waarin ons ons bevind, dikwels op ʼn baie jong stadium reeds kreatiwiteit smoor, eerder as om dit te bevorder. Dikwels staan kunstenaars voor die keuse van “’n beroep wat ʼn inkomste sal verseker” en die uitleef van hul talente. Daar is nie ʼn vinnige en maklike pad tot sukses in die uitvoerende kunste nie. Steve Kotler (skrywer en joernalis) het gesê: “Creatives fail and the really good ones fail often”. Dit is dus belangrik om mislukking nie as die einde van die skeppingsproses te sien nie, maar as die begin of oor begin. Mens moet die selfvertroue hê om aan te hou en jou vrees vir mislukking te oorkom deur ook spesifieke hindernisse in jou kreatiewe proses te identifiseer en sodoende die weerstand te oorwin. In die alledaagse moet ons dus nie op ʼn passiewe wyse bloot bestaan nie, maar moet ons kreatiwiteit voed deur waarnemings en aantekeninge wat later as bron dien waaruit ons kan put wanneer ons skeppend wil optree … toegepaste kreatiwiteit!
Die kursus het oor verskeie temas gestrek, insluitende regie, tydsbesteding, toneelwerk, tekskeuse, rolverdeling, kamerawerk, beligting, klank, toneelspel en skryfwerk. ʼn Goue draad was dat alle aspekte soos rolverdeling, teks-, kostuum- of musiekkeuse nooit ter wille van die besluitnemers gemaak word nie, maar ten doel moet hê om die teks, die karakter, die kunswerk en uiteindelik die teikengehoor, te dien. Dit is verder ook beklemtoon dat die regisseur uiteindelik ten volle verantwoordelik is vir die produksie en alle aspekte dus deeglike oorweging vereis.
Die uitvoerende kunste strek oor ʼn wye veld. Dr. Chris Vorster het daarin geslaag om nie net die kursusgangers terug te bring aarde toe deur die uitdagings en realiteite in die bedryf onomwonde uit te lig nie, maar terselfdertyd ook elkeen bemagtig met kennis wat as aansporing dien om die vlerke te sprei en nuwe hoogtes aan te durf deur die uitlewing van kreatiwiteit.
Fotos – Dia van Staden