Koerania

Rilene van Staden laat die Orania vlag in die VSA wapper!
Rilene van Staden laat die Orania vlag in die VSA wapper!

Rilene verken die VSA

 

Op 5 Februarie 2024 het sy tussen Cumming en Alpharetta, in die staat Georgia in die VSA begin werk terwyl sy haar ondervindingsveld geweldig uitbrei. Rilene van Staden is ‘n Oraniër, maar het haar tuiste vir ten minste een jaar vir die VSA verruil om as au-pair werksaam te wees.

Sy bly saam met ‘n gesin in hul kelder, maar daar het sy ‘n eie slaapkamer, sitkamer, kombuis en badkamer. “Dit is eintlik ‘n klein woonstel onder hulle huis,” verduidelik Rilene. Die gesin by wie sy werk bestaan uit die ouers, ‘n drie maande oue tweeling en twee peuters van 1 en 2 jaar oud. Daar is nou vyf vroue en twee manne in die huishouding, Rilene ingesluit.

Rilene vertel dat sy saam met die gesin eet en hoef dus nie vir kos te betaal nie. Sy verdien ‘n weeklikse fooi omdat sy ‘n skedule moet handhaaf waartydens sy vir 45 ure van die week na die kinders omsien.

Sy vertel dat die kultuur daar baie van die Afrikaner se kultuur verskil. “Die kinders hier ken nie asseblief en dankie nie. Hulle skree op hulle ouers en slaan hulle end it is nogal moeilik om dit te aanskou as jy uit ‘n huis kom waar die opvoeding 100% die teenoorgestelde was. “My pa sou lankal my agterent aan die brand geslaan het as ek helfte van die goed doen wat dié kinders doen en sê,” sê Rilene.

Haar verantwoordelikhede sluit in om vir die kinders ontbyt, middagetes en aandetes te maak. Doekeruil is natuurlik deel van hierdie kleingoed se roetine. Sy pak die skottelgoedwasser in en uit, ruim die huis op, pak speelgoed weg en stofsuig die vloere daagliks.

Die grootste aanpassing tot dusver vir haar was om nie oom of tannie te sê nie, en om te aanvaar dat jy nie ongeskik is as jy mense op hulle name noem nie.

Sy het ‘n voertuig tot haar beskikking en kan die omgewing ontdek wanneer sy nie werk nie. “Ek geniet dit die meeste om nuwe plekke te sien, en nuwe dinge te doen. Alles in die lewe het maar hulle uitdagings en mens gaan nie net altyd ‘n lekker lewe hê nie, maar dit is vir my ongelooflik lekker om baie nuwe mense te ontmoet,” vertel die 22jarige dame.

Na afloop van die jaar kan Rilene besluit of sy haar kontrak met 3, 6 of 9 maande wil verleng. Tans sien sy net uit na die dertig dae wat sy, na die jaar, sal kan toer voordat sy besluit wat om daarna aan te pak.

“Die wêreld is so groot, en dis lekker om daardie prentjie of idee wat jy van die wêreld het, te kan vervang met ware herinneringe.”

Lourens en Kaylin Erasmus wat Amerikaanse waters gaan proe het.
Lourens en Kaylin Erasmus wat Amerikaanse waters gaan proe het. Lourens by die trekker waarop hy gereeld as “farm hand” werk en waar Kaylin saam ry wanneer die geleentheid hom voordoen.

Egpaar Erasmus ondervind die Amerikaanse sjarme

Lourens en Kaylin Erasmus kry tans warm waar hulle in Hazlehurst, ‘n klein dorpie wat ongeveer 3 ure se ry van Atlanta af en 2.5 ure van Jacksonville af geleë is. Hulle bevind hulle in die staat Georgia in die VSA, en gelukkig nogal naby die see.

Lourens het ‘n 10 maande werkspermit gekry om op ‘n plaas, waar hulle tans mielies plant, te arbei. Kaylin vertel dat daar op dié plaas katoen en grondboontjies ook geplant word. “Lourens verlaat in die donker die huis en keer in die nag weer baie vuil terug van die lande af,” deel vroulief. Daar word instandhouding van Bloubessieboompies bykomend op die plaas gedoen. Dié egpaar sal na die tien maande besluit of hulle dalk die Amerikaanse winter ook wil trotseer en sodoende ‘n bietjie langer aanbly.

Kaylin kry nou die geleentheid om Lourens te versorg en maak seker die huishouding se sake verloop vlot. Sy is beslis nie verveeld nie, want sy vertel reeds dat die dorp baie aktiwiteite vir individue of groepe bied waarby sy reeds betrokke geraak het.

“Ek gaan gereeld, veral Saterdae, saam met Lourens werk toe, veral as hy beplan om heeldag in die trekker deur te bring. Ek het my sitplek langs hom,” vertel sy opgewonde.

Wanneer Kaylin tuis bly geniet sy dit om die plaaslike biblioteek, wat loopafstand van hulle huis is, te besoek. Sy vertel van die weekliks kreatiewe aktiwiteite wat hulle gratis aan kan deelneem. Die damesoggende by hulle kerk geniet sy wanneer daar gassprekers optree wat interessante onderwerpe bespreek. “Dan is daar natuurlik winkels soos Wallmart, waar ek vir lank kan rondstap en alles bekyk…” kan sy nie help om te vertel nie.

Die jong vrou was in 2012/2022 ‘n au-pair in New York en geniet die plaaslike mense van hulle huidige tuiste se southern charm en vriendelikheid geweldig.
Kaylin se hoogtepunt van elke dag is beslis wanneer Lourens tuiskom en van sy dag vertel. Aangesien hy in 2023 alleen in Amerika was en Kaylin in Suid-Afrika agterbly het, benut hulle elke beskikbare oomblik saam.

“Ons is baie dankbaar dat die Vader dit moontlik gemaak het dat ek dié jaar kon saamkom,” sê sy met ‘n glimlag.

Post Views: 170