AfriForum Sakenetwerk se Besigheids-bytjies- en Juniorpreneurs-kompetisie het op 8 Julie ten einde geloop toe die wenners vir vanjaar aangekondig is.
Desireé Maree (15) het vir die derde agtereenvolgende jaar vir dié kompetisie ingeskryf en het ‘n tweede plek in die afdeling vir hoërskoolleerders gekry. Haar boetie, Righardt (10), het sy eerste poging vir die kompetisie gewaag en sommer met die louere weggestap.
AfriForum het reeds in 2019 die Besigheids-bytjies-entrepreneurskompetisie van stapel gestuur. Dié aanlyn kompetisie het intussen uitgebrei deur voorsiening te maak vir hoërskoolleerders (Juniorpreneurs) wat ’n passie en kop het vir besigheid. Die doel van hierdie kompetisie is om jong entrepreneurs van vroeg af te bemagtig. Entrepreneurskap is nie noodwendig iets waarmee elke persoon gebore word nie, dit is ook iets wat geleer, gevorm en uiteindelik ontwikkel kan word.
Desireé en Righardt is tuisskolers wat sommer vroeg uitgespring het om selfonderhoudend te kan raak en te leer hoe jy met geld moet werk. Desireé se naald en garing is besig om mooi naam te maak en sy geniet die herstel van klere, maar put baie genot daaruit om iets nuuts en unieks vir ‘n kliënt te skep. Haar slagspreuk is Waar ons liefde aan lap vaswerk.
Righardt se besigheid, Tjoppie se Weltevreden Tuindienste, sorg dat al hoe meer tuine in Orania netjies en rommelvry bly. Hy sny gras, rond rante af en ontbos waar nodig.
Daar was flink aan stemme gewerf aangesien 50% van die punte vir die kompetisie uit publieke stemme opgemaak word. Ander besighede wat deelgeneem het sluit Biltong Tjommas, Pennie en Pot, Wilde Geskenke en vele meer in.
Righardt besef dat hy eendag vir ‘n gesin kos op die tafel moet sit, daarom wil hy werk en geld verdien. Desireé wil doen wat sy geniet en daarmee ook ‘n verskil in ander se lewens maak. Albei die jongmense besef dat toerusting kan breek en dat daar gedink moet word aan uitgawes, terwyl daar ‘n inkomste is. Hul beoog albei om nuwe toerusting met hul wengeld van R7 000-00 aan te koop, maar oorweeg dit om personeel aan te stel.
Hulle besef darem dat daar balans moet wees en in die jonge dame se vrye tyd word daar gedans, gesing, kreatief met kunsgoed en hare gewerk en juwele ontwerp. Boetie verkies om buite te wees, bal te speel, fiets te ry en te dans.
Daar is groter drome wat vir hulle in die toekoms wink. Righardt wil eendag met beeste en perde, wat hy kan oplei, boer. Desireé sien daarna uit om eendag die Weltevreden Dansakademie by haar ouers, Lana en Kobus, oor te neem, maar wil haar vernuf met die maak van klere en juwele opskerp sodat dit ‘n konstante inkomste kan bring. Sy beoog om die wêreld te sien en ‘n winkel met haar eie klerereeks te besit.
Een van die beoordelaars, Albert van Wyk, ‘n 31-jarige Suid-Afrikaanse Entrepreneur, Eiendomsbelegger, selfgemaakte Miljoenêr, en gekwalifiseerde Industriële Ingenieur en top-verkoper skrywer sê: “Moenie huiwer nie, begin vandag. Jy is nooit té jonk om ’n entrepreneur te word nie.”
Dié twee besigheidsbye is dit eens: “Glo in jouself, dan sal iemand anders ook in jou glo!”
Gaan lees meer hier: Besigheidsbytjies