Oom Lukas Taljaard spit steeds, want hy is sedert die ontstaan van Karoosig Aftree-oord in 2014 betrokke. Saam met hom is sy kamerade Pierre Fourie, Riaan Jacobs en Kobus Bester.
Gerhard Pretorius en Christiaan van Zyl van Avstrooi Argitekte in Orania is trots op die planne wat hulle vir die Karoosig se ontwikkeling, wat deel vorm van die Werksplein, kon lewer. Dié nuwe gebou sal saam met die Duiker-gebou en Orania Veiligheidsdienste se Gemeenskapsveiligheidsentrum aan die Werksplein gestalte gee.
Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het sy hoop uitgespreek dat dié unieke ontwikkeling, met die latere toevoeging van kultuursterk-beelde op die Werksplein, sal bydra tot die ingesteldheid van trotse werksetiek en die adelheid van arbeid simboliseer.
Riaan Jacobs, voorsitter van die Karoosig Aftree-oord se direksie, het ‘n kort uitbeelding van die geskiedenis van die oord aan die inwoners voorgehou. Hy het sy wens dat Oraniërs van geboorte tot aftrede in die dorp kan vestig, verwoord. Hy kon nie nalaat om die pioniers van Orania te bedank vir hulle geloof en visie om ‘n oord vir bejaardes te ontwikkel nie. Ou en nuwe personeel, borge en ondersteuners is bedank vir hulle getroue insette. Die nuwe fase beoog om bejaardes as ‘n integrale deel van die gemeenskap te behou.
Niel de Klerk, hoof van ontwikkeling en belegging by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, het die uitleg van die Werksgebou ten toon gestel. Die gebou sluit kommersiële en residensiële opsies in. Daar word veelvuldige ruimtes vir die effektiewe aanmoediging van werk geskep. ‘n Tipiese Karoostyl is deur die argitek in ag geneem. Professionele ontwikkelaars het praktiese raad verskaf om seker te maak dat die breër ontwerpe steeds in die toekoms sinvol sal wees.