Michelle Jacobs, eienaar en afrigter van die Oranjerivier Gimnastiekklub, het 7 van haar gimnaste vir hul eerste buitekompetsie in Kimberley voorberei en spog met pragtige resultate.
Saterdag 25 Mei sal vir dié klublede altyd ‘n datum van oorwinning wees. Hul het, volgens wat Michelle vertel, veral hul vrees vir kompeterende deelname oorwin. “Ons almal se senuwees was gedaan en ek het skielik aan alles wat ek hul ooit geleer het, getwyfel,” erken Michelle.
Daar was 85 deelnemers wat hul gimnastiekkragte gemeet het. Elke gimnas het vir hul vrydans en apparaat ‘n punt verwerf en daar is ook ‘n algehele punt per gimnas toegeken. Die Oranjerivier gimnaste het onder andere met 6 eerste plekke geseëvier. Die een algehele hoogste puntetelling vir alle ouderdomme in Pretgim is met trots ontvang.
Buiten die gimnaste se goeie resultate is die afrigter en ouers trots op die positiewe gesindheid wat elke gimnas met hul deelname getoon het. Juffrou Michelle sê: “My hart wou bars!”