Koerania

Wysies en Woorde skop die KultuurKuier af

Stef Kruger en Dana Snyman besoek Orania tydens die KultuurKuier op 1 en 2 Augustus vanjaar.
Dié twee gewilde kunstenaars vat jou op ‘n woord- en musikale reis aangesien Stef al 45 jaar liedjies skep en sing. Liedjies soos Pennies op die spoor, Grassade in die wind, Tussen jou en my en Kronkelpad beloftes om maar ‘n paar te noem. ‘n Magdom kunstenaars het sy liedjies opgeneem, maar sy persoonlike vertolkings is uitmuntend. “Wanneer lirieke uit jou eie pen kom, is daar altyd soveel meer waarde daaraan wanneer jy dit self vertolk,” vertel Stef.
Skrywer Dana Snyman se nuutste boek, Seun, sal dan die rakke tref en die inhoud handel oor sy eie lewe. Dana het ‘n unieke manier van stories vaslê en dit kry pragtig lewe wanneer hy dit self vertel.
Stef en Dana sien daarna uit om die Oraniagehore te vermaak en hulle eiesoortige kuns te kom deel.
Die KultuurKuier se volledige program sal eersdaags op Koerania se sosiale media platforms gedeel word. Dit beloof om boekwurms, liefhebbers van kuns, musiek, kultuur en kuier se aptyt mateloos te bevredig.
Kaartjies sal by die Orania Beweging beskikbaar gestel word. Kontak die Okkasie Hasie by 083 726 1180 vir meer besonderhede.
www.koerania.co.za

Boeke en Bredies

Daar sal ‘n verskeidenheid skrywers Orania besoek tydens die KultuurKuier. Dana Snyman, Willie Spies, Riaan Grobler en Stef Kruger sal deel vorm van die groep.
Die skrywers gaan by die tafels rondom ‘n bredie plaasneem om met die inwoners te kuier. Daar sal ‘n paneelbespreking gehou word sodat almal die skrywers en hul skryfproses ‘n bietjie beter kan leer ken.
Meer inligting oor kaartjies sal binnekort beskikbaar wees.

Willie slaan ‘n eie rigting in

Willie Spies, ‘n bekende in regskringe, se boek is ‘n bundel van sy rubrieke wat oor ‘n lang tydperk in Beeld verskyn het. Hy besoek Orania tydens die KultuurKuier en bring die feite saam.
Eierigting is‘n regsterm wat beteken dat jy die reg in jou eie hande neem.
In ‘n grondwetlike bestel is die uitgangspunt dat die burgery kollektief hul reg om hulself te beskerm oordra aan die staat. Wanneer die staat faal en nie meer sy burgers beskerm nie, verander die situasie. Dan raak eierigting nodig.
Willie Spies skryf sedert 2016, die jaar van Fees Must Fall in Suid-Afrika en die verkiesing van Donald Trump in die VSA, rubrieke vir Beeld en Netwerk 24.
Die rubrieke ontgin die stand van die makro-omgewing van verval van die staat waarin Suid-Afrikaners hulle bevind gedurende die jare van staatskaping, die einde van die Zuma-bewind, die EFF, die einde van Afrikaans in die universiteitswese, die era van Rama-forie, die COVID-pandemie en gepaardgaande wêreld gebeure in historiese konteks.
Dit keer telkens terug na die mikro-werklikheid van eie menswees, geloof, hartseer, eensaamheid, verlies, ouer-word en vergifnis.
Dit ondersoek ’n nuwe vryheidsideaal, 30 jaar na die verkiesing van 27 April 1994 en beskryf hoe eierigting regmatig deur instellings van die burgerlike samelewing plaasvind wat leemtes vul wat die staat ooplaat.
Bron: Naledi

Stef Kruger
Stef Kruger
Willie Spies
Willie Spies
Dana Snyman
Dana Snyman
Riaan Grobler is skrywer, sanger en radio omroeper
Riaan Grobler is skrywer, sanger en radio omroeper
Post Views: 129