Koerania

Die mediese noodspan het op Saterdag 27 April ‘n fondsinsameling gehou waartydens spanne hulle spoed, vernuf en afronding van prosedures kon toon.
Spanne van vier persone elk kon in laerskool, hoërskool en opespanne deelneem. Daar is repetisies van fiksheidsoefeninge gedoen, gekyk watter span die vinnigste ‘n verband vir ‘n pasiënt kon aansit en afhaal, ‘n arm spalkoefening en ‘n veilige draagbaaroefening is uitgevoer.

“Met die draagbaaroefening was dit nogal belangrik dat die pasiënt nie afval nie,” skerts Maria Pereira wat die inisiatief namens die noodhulpspan georganiseer het. Die wenners het elk mediese sakkies ontvang wat kan bydra tot hul volharding en verdere oefening in noodhulp.

Die fondse wat ingesamel is gaan aangewend word om nuwe toerusting vir die mediese noodspan, wat onder Weerbaarheid resorteer, aan te koop. Dié span is van onskatbare waarde vir die inwoners aangesien hul 24 uur op bystand is. In ‘n geval van nood kan die OVD beheerkamer by 060 501 7877 gekontak word wat dan die mediese bystandspan sal aktiveer.

Helena Erasmus, paramedikus en leier van die noodhulpspan noem dat enige persoon by hulle kan aanklop om deel te vorm van die span. “Dit bly van kritiese belang dat individue ten minste weet hoe om Kardiopulmonêre resussitasie (KPR), bloeding en die gebeurlikheid van verstikking te hanteer,” herinner Helena.

Post Views: 102