Iewers in die laat 90’s het die Groot K vir pappa gekelder.
Maar, die spitsvondigheid het gebly… soos die dag toe ons moes ry om 08:00 by die staatshospitaal te wees vir NOG ‘n chemoterapiesessie.
Kom 16:00 die middag, en hy sit steeds in die stoel, nog nie ge-chemo nie, so wit soos ‘n lap van pyn, moet ek hoor: “My Nonkie…. Vir sommige mense, kom ek agter, hoe langer die wag word, hoe lekkerder word dit!” Rondkykende na die spelende kinders en slap-tjips papiere en die kombers-leênde oumas…Almal WAG.
Kry ek weer daardie gedagte waar ek sit en wag in Oraniamed se apteek op Dok, wat ‘n noodgeval moet hanteer en maak dat ons almal bietjie moet WAG…
Al groetende, geselsende, uitvraende met almal…. Soos altyd, raak ek dit toe kwyt aan ons Apteker, wat ewe lekker saam lag vir Pappa se samevatting.
Dat langer WAG kan lekkerder word, gebeur net in Orania…dat jy saam kan bekommer oor boeta se aanhoudende hoes, en of tannie Marthie se man se gehoorstukkie al opgedaag het, en of die vars vrugte al uitgepak is by die groentewinkel.
Of die student wat se ouers vêr is, se lessenaar al afgelewer is, en of die kraan in K208 al reggemaak is.
En…. aiii… man…. Is dit behoudend, maagkramp-lag-lekker, en gemeenskapbouend, amper so lekker dat jy jammer is dat Dok jou kom haal vir jou afspraak?
Lang storie kort…
INCURVATUS IN SE…
Dat ons as mens “ingekeer” is in onsself, is die siekte van ons tyd.
En hoe maklik is dit nie, vra ek myself daagliks af.
Hoe min vang ek myself oorstelp deur die saamleef in Orania, met wat heeldag rondom ons gebeur?
Die wonder van sproeiers wat water uit die Oranjerivier op lowergroen grasperke kan spuit, seuntjies op fietse met swemhanddoeke op pad om die hitte in die skitterblou swembad te gaan afspoel?
Die Dorpskantoor se bakkies wat jy by elke straathoek sien, met manne met harde hande, bruin velle, en glimlaggende gesigte wat ons dinge laat loop soos dit moet?
Studente met kaalgeskeerde koppe wat al hulle hoedens lig nog voor jy naby hulle is, die braaivleisreuk wat op ‘n Vrydagaand in die wind aangewaai kom van die bure af?
Hoe lank? Hoe lank voordat ons kan dankie sê aan ‘n God wat ons hier in vrede kan dien, met vryheid en, as ons wil, samelewing? Want ja…die lewe is nie ‘n grap nie, en Orania en sy mense het nie die Sondeval gemis nie, soos my Danie-boetie sê.
Maar, kan ons, met oorgawe, ons NORMAAL waaragtig waardeer? Ons skoon water, skoon lug, skoon strate, skoon winkeltrollies elkeen op sy plek? Stofstrate, stowwerige karre, maar mense wat ‘n keuse gemaak het om vir hulle en hulle kinders ‘n ander normaal te kom soek, deur stofstrate en klein inkomstes deur?
Want, van waar ek sit op die oranje stoel in die spreekkamer, is die hierwees waaragtig lekker…en MOET ek kan.
Vir God en my mense, hier sit en staan ek, want ek kan nie anders nie…
Met dankbaarheid
Helene Brink