Andante cantabile … op ‘n loopgang, vloeiend en melodieus! Dít is hoe die volksliedkompetisie tans vorder. Nadat vyf liriek-finaliste aangewys is, het die komponiste nou hul kans benut en melodieë ingeskryf vir die spesifieke stel lirieke wat hul hartsnare roer.
Die Orania Kunsteraad (OkeR) fasiliteer die Orania Volksliedkompetisie nadat die behoefte aan ‘n Oranialied uit verskeie geledere geopper is. In die afgelope 30 jaar kon die Klein Reus prominent pronk om die gemeenskap tot selfwerksaamheid op te roep.
Die Orania-vlag wapper, volmas óf halfmas, in tye van triomf en trane. En wanneer ‘n klompie Oras verblyfreg in jou beursie gekry het, word jy maklik herinner aan presies waar jy jou bevind!
Simbole versterk ons eie identiteit en snoer ons saam. Vele kere in Orania se bestaan moes Oraniërs eintlik maar in swye toekyk hoe iets groots gebeur in plaas van om jubelend te juig, siende ‘n eie unieke sangsimbool nog nie gevestig was nie. ‘n Leemte wat oorverdowend roep om gevul te word, hopelik teen Oktober 2024 wanneer ‘n wenlied aangewys word!
Alhoewel alle inskrywings aan die basiese kompetisieriglyne voldoen het, is daar redelike variasie in die aanbieding van beide die bladmusiek en klankbane wat ontvang is. Die Volksliedkomitee is daarom tans besig om al die melodie-inskrywings na te gaan en tegnies te versorg.
Handgeskrewe bladmusiek word byvoorbeeld verwerk tot ‘n digitale uitleg. Laastens sal musiekkundiges en ‘n paneel van beoordelaars dan die inskrywings oorweeg.
Besoek gerus https://volkslied.co.za om solank die moontlike lirieke te lees en die polsslag van die musiek te verbeel.
Binnekort sing ons dawerend saam! Verbum ad cantorum!