Die Forum vir Gestremdes druk sommer gou hulle stempel op die gemeenskap af deur ‘n eerste Vellievoetefees op 3 Mei aan te bied.
Die doel van die forum is om ʼn platform te skep waar die gemeenskap van persone wat met gestremdhede leef en hulle families, sinvol met mekaar kan skakel. “Ons wil mekaar leer ken en oor ons unieke behoeftes en uitdagings gesels om saam aan oplossings te werk,” vertel Renska Deetlefs, voorsitter van die forum.
Plakkers word teen Φ10 elk te koop aangebied. Elkeen word versoek om ‘n plakker te koop wat op Vrydag, 3 Mei 2024 met die VellieVoeteFees gedra word, wat dan toestemming verskaf aan die persoon om onpaar sokkies (enige soort of kleur) met tekkies, skoene of vellies te dra. Indien kaalvoet verkies word, hul voete sommer te versier met kleurvolle blommetjies, lint of veters.
‘n Foto-kompetisie word geloods vir die beste foto wat ingestuur word deur middel van “Whats App” nommer 083 3050 181 (slegs vir Foto-kompetisie) met naam van persoon, of groep en kontaknommer. Deur u foto/s deur te stuur aanvaar ons dat u toestemming gee vir die plasing daarvan op sosiale media. Die wenner sal op 10 Mei aangekondig word. Pryse kan gewen word!
DIE HOOGTEPUNT is ‘n Pretstap/-optog wat om 15:00 vanaf die Klein Geluk/CVO skool se sirkel afskop en daar sal tot by die Volkskool gestap word.
Vir enige navrae of verdere inligting kan Renska by 083 557 2236 of vvf@gestremdes-orania.co.za gekontak word.