Roelien de Klerk – vriendin van die egpaar
As ons oom Chris Jacobs se kis laat sak, sal dit nie net ‘n gewone kis wees nie. Dit is ‘n skatkis wat in Orania se eie grond gebêre word. In hierdie skatkis is baie verhale, mooi herinneringe en uitsonderlike eienskappe van ‘n man wat vir sy gesin, sy volk en vir sy God geleef het. Oom Chris (dit is sy dorpsnaam) was groot in gestalte, maar hy het ‘n klein hart gehad. Sy groot hande was altyd oop. Sy sagte stem het hard getref met wyse woorde, sy geduld het storms stil gemaak. Sy vurige ywer is in kalmte en in liefde oorgedra. Oom Chris kon luister, ‘n eienskap waaroor min mense beskik.
Tydens sy grootword-jare het hy saam met die Boesmans spoorgesny en daardie fyn waarneming wat hy aangeleer het, het hy toegepas deur met waardering en empatie teenoor mense op te tree. Oom Chris het altyd tyd gehad, maar hy het meer as genoeg gedoen gekry…en as hy iets doen, kon jy weet dit sal goed wees.
Hierdie groot man is ‘n Klein Reus wat groot idees help realiseer het. Hy het moue opgerol vir ons almal. Sy bydrae in Orania sal deel wees van die skatte wat hy nalaat. Oom Chris verdien ‘n rusplek in ons eie grond, die grond wat hy lief gehad het en die grond wat ons voortaan sal aanhou bewerk, soos hy dit sou wou hê