Koerania

Dia van Staden – Redakteur

Die voorbereiding vir ‘n eersteling was deel van Carien en Gehard Strauss se huweliksplan toe hul op 30 Maart 2023 in die eg verbind is.
Carien wou nie uit die staanspoor uitblaker dat sy swanger was nie en het maar met naarheid en moegheid gesukkel gedurende haar 12 ure werksdae. Andersins was haar grootste uitdaging tydens haar swangerskap om die laaste twee weke sonder Gerhard naby Bloemfontein te woon, en vir hul baba se koms te wag.
Carien het haar fisiese beweeglikheid en aanpas van haar dieet nie maklik gevind nie. “Ek kon nie saam met Gerhard die hele dag sit en visvang op die boot nie, want ek moet kort-kort ‘n badkamer opsoek. Perdry is uit en om ‘n rivier op 26 weke te probeer deur swem is dalk nie slim nie,” lag sy. Die dra van klere vir swanger vroue was nie vir haar pret nie en sy moes nog nooit soveel water op ‘n dag drink nie.
Hulle het op ‘n watergeboorte besluit en vroedvroue moes raad gee omdat klein Willem verkeerd gelê het vir ‘n normale bevalling. Carien het vir drie weke getrou die oefeninge gedoen, maar op 39 weke was daar steeds geen verandering nie. Carien is self ‘n suster en het vooraf besluit dat keisersnee ‘n absolute laaste uitweg sou wees. “So iets laat jou weer besef dat die Here in beheer is, en daarom was ek meer as gewoonlik op my knieë,” erken Carien.
Die Here was getrou en Willem het in die laaste week van haar swangerskap reg gedraai. “Ek was nog nooit in my lewe so bly om pyne te kry nie, want dit was ‘n aanduiding dat ek normaal sou kon geboorte skenk” vertel sy.
Op Sondag 14 Julie om 21:50 het Willem sy opwagting by ‘n kliniek in Bloemfontein gemaak. Hy het 3055g geweeg en was 49cm lank. Carien het die watergeboorte en kraamproses baie positief ervaar. “Die wonderlikste vir my was dat ek en my man daardie aand rustig met ons klein babatjie tussen ons kon slaap. Ek het self nie besef hoeveel dit vir my sou beteken dat Gerhard nie hoef huis toe te gaan na die tyd nie, maar dat ons bymekaar kon wees en saam kon dankbaar voel vir so ‘n groot voorreg en seën wat die Here vir ons beskik het om ‘n klein verbondskindjie te mag ontvang.”
Hulle het by die tradisie gehou en Gerhard se pa vernoem. Klein Willem is dus die sesde geslag in ‘n ry wat Willem gedoop word.
“Na die geboorte was ons in verwondereing oor die klein mensie wat skielik net so weerloos en perfek in ons arms lê. Daardie oomblik wat die baba gebore word is werklik so spesiaal soos almal sê. Mens voel opeens net so lief vir die klein mensie wat jy nog eintlik moet leer ken. Dit is werklik een perfekte goue oomblik in ‘n mens se lewe,” babbel sy vrolik.
Willem se ligblou en grys kamer wag op hom, maar tans slaap hy knus tussen mamma en pappa.
“Soms maak Gerhard nou kos sodat ek saans eers na Willem se belange kan omsien. Ons moet alles nou rondom Willem en sy pakkaas beplan, want anders is ons oral laat. ‘n Vuil doek en ‘n honger baba laat alles eers tot stilstand kom.
Die spoed waarmee mamma deesdae bad, skottelgoed was en huis opruim is ongekend, want wanneer kleinman wakker word is al die aandag daar gefokus. Die ouerpaar is selektief met die keuses van geleenthede wat hul bywoon, want tyd is nou ‘n faktor.
“Jy besef eers jou ouers se harte as jy self ‘n kind het. Ons besef nou hoeveel hierdie liefde mens se keuses in die toekoms sal beïnvloed. Ons geniet elke oggend se wakkerword en saans as Gerhard by die huis kom die meeste. Mens let al die kleinste goedjies op met jou eie baba en alles is vir jou oulik en uniek.”
“My raad aan voornemende vroue wat wil trou is om ‘n man te kies wat die Here ken en vrees. Wanneer ‘n mens uiteindelik saam strewe na die wil van ons Vader is daar min van jouself in die pad wat tussen julle kan kom staan.”
Ek wil afsluit met Tim 2:15: Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.

Fotos’ – Cara Tomlinson

Gerhard Carien en baba Strauss
Gerhard Carien en baba Strauss
Post Views: 90