Die inhoud van oudpresident Paul Kruger se sterfkamer, uit Clarens in Switserland, het 120 jaar later sy tuiste gevind by ons kultuurtuiste, die Voortrekkermonument.
Die inisiatief is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) van stapel gestuur.
Na die Villa in Clarens in die vroeë 90’s verkoop is, is ’n serwituut vir 25 jaar aan die FAK goedgekeur. Dié serwituut het in 2021 verval en die inhoud van die vertrek waarin Kruger oorlede is, is aan die FAK terugbesorg en in die Kruger-galery by die VTM opgeneem.
Die FAK het vandag (12 Julie), kort voor die herdenking van Kruger se sterfdag op 14 Julie 1904, tydens ’n spoggeleentheid by die Voortrekkermonument die nuwe Kruger-sterfkamer, ’n replika van die vertrek waarin hy oorlede is, bekendgestel.
Die oorspronklike bed waarin Kruger gesterf het staan al vir jare in die Krugerhuis in Pretoria en nou kan die replika wat spesiaal vir Villa Kruger gemaak was hiér gesien word.
Danie Langner, besturende direkteur van FAK sê dis ’n geskiedkundige oomblik om die artefakte weer op eie bodum te hê.
“Dis ’n groot voorreg vir die FAK om hier by die VTM die Kruger-Sterfkamer te kon bou,” sê hy.
“Dit maak vir die FAK sin om dit hier by die monument te doen omdat Kruger se voetspore ook in die Groot Trek getrap is.”
Paul Kruger was as jong seun deel van die Slag van Vegkop en word ook op dié veldslag se fries in die monument se heldesaal uitgebeeld. Die Vrijheidsreis uitstalling in die kelder van die monument eindig ook in Pretoria, op die voorstoep van Paul en Gezina Kruger se huis en in die Historiese Trekroetetuin staan ’n 14-jarige Kruger wat ’n leeu jag ook sy plek vol.
Villa Kruger, soos dit deur die jare bekend geword het, is die huis waarin die voormalige president
van die Zuid-Afrikaansche Republiek die laaste ses maande van sy lewe deurgebring het.
Tydens die amptelike bekendstelling van die Kruger-sterfkamer het prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK se direksie ’n toespraak gelewer oor “die betekenis van Paul Kruger in 2024”.
Goosen sê die nabyheid met Kruger se sterfkamer vul mens met ontsag.
“Hier waar ons staan, is ons met ontsag gevul, nie net omdat ons voor Kruger se sterfkamer staan nie, maar omdat ons vandag weer ’n reus uit ons geskiedenis se lewe kan vier. Ons is, om Anna M Louw aan te haal, ‘dankbaar vir die geskenk wat Paul Kruger se nalatenskap steeds vir ons beteken.’”
Twee broers Paul en Pieter (Tokkie) Kruger, wat sesde geslag-afstammelinge van die ontslape Kruger is, het ook die verrigtinge by gewoon.
Paul (52) het spesiaal uit die Kaap hier kom kuier en sê dit maak hom ongelooflik trots om te weet sy grootoupa word vandag nog hier by die VTM vereer.
“Dit klink so geyk, maar die waarheid is ek kan nie anders as om oor te loop van trots nie.”
“Ek en my gesin het in 2017 Switzerland toe gereis om die huis te besoek en nou kan ons, vir die eerste keer ooit, hier in Pretoria kom kuier om nader aan die storie van ons grootoupa te kom,” sê Paul.
Pieter (66) sê vandag was vir hom ’n emosionele oomblik.
“Ons het groot geword met die stories van ons oupagrootjie se oupa en vandag het dié stories weer net duideliker geword met die voorwerpe uit sy verhaal wat hier voor ons staan. Dit maak mens emosioneel en trots,” sê Kruger.
“Deesdae hoor mens al hoe meer dat jongmense nie die geskiedenis ken nie en mens raak bang dat dié verhale gaan verdwyn so ons is baie dankbaar dat die FAK die storie van ons familie hier bewaar en vertel word.”