Is dit nie verstommend hoe vinnig ‘n maand verby kan gaan nie? Hier is ons in Februarie, die maand van liefde, en die jaar kry stewig momentum. Ouers en kinders skarrel nog effens om hulle ritme in die skoolroetine te vind. Drickus laat sy teenstander weet wat ons geweet het, terwyl ‘n verkiesingsjaar wag en ons eintlik nie meer weet nie.
Heelwat internasionale besoekers was die afgelope maande in Orania verwelkom. Daar word positief kommentaar gelewer en die vooruitsigte om terug te keer na hul onderskeie tuistes raak al meer bleek.
Oraniërs is in afwagting vir die energiegewende battery, sodat produktiwiteit kan uitbrei en asems word opgehou om te sien hoeveel mense dan na Orania as die antwoord op baie vrae sal wil stroom.
Die Noord-Kaap somer daag elke arbeider en werker uit om vas te byt. Almal is dit eens dat daar vinniger gebou moet word sodat die vraag-en-aanbod ratio beantwoord kan word. Besoekers lewer kommentaar oor die hardwerkende en vriendelike gemeenskap. Mag ons hande vat en daardie eienskappe uitbou as vertoonvenster van ons gemeenskap.
Iewers staan iemand by ‘n sterfbed en treur. Wat het van simpatie en empatie geword? Gee ons werklik nog vir mekaar om? Ons kry met elke nuwe dag ‘n geleentheid om liefde te toon. Doen dit net!
Dankie vir elke Koerania ondersteuner, adverteerder en leser! Hou ons gerus op ons tone en stuur ook jou storie of foto vir ons na redakteur@koerania.co.za om moontlik in die volgende uitgawe in te sluit.
Skink ‘n koffie en laat ons verder bou!