Koerania

In Orania word daar hard uit verskeie oorde gewerk aan die behou van volkseie Afrikanertradisies. Hier word ook belê in Oraniatradisies wat voortbou op ons liefde vir kuns en kultuur. Die Kaalvoetkonsert vorm deel van die jaarlikse Orania Karnavalvieringe en mag ek sovêr gaan as om te sê dat dit gevestig is as een van daardie tradisies waarna daar elke jaar, sonder uitsondering, uitgesien word.
Wanneer jy die Gemeenskapsaal nader en net verby die Beeldekoppie kan sien dat die parkeerarea tot oorlopens toe vol is, dan weet jy hier kom ‘n ding. ‘n Feestelike atmosfeer in ‘n stampvol saal begroet jou en daar word met oorgawe gekuier en rumoer. Die gehoor sluit vakansiegangers van heinde en verre in wat besluit het om die skoolvakansie in Orania te spandeer, en te deel in die nou-al welbekende, Orania Karnavalfeesvieringe.
Die verhoog is opgemaak met allerlei sporttoerusting, wat by vanjaar se tema “Kaalvoetspele September 2024” aansluit. Die woorde Geloof, Hoop en Liefde het in liggies agterop die verhoog gepryk. Die program toon dat die gehoor kan uitsien na 25 sangitems. Onder leiding van ons burgemeesteres, Lida Strydom, skrywer, vervaardiger en verteller skets die storie ‘n dorpie in die Noord-Kaap wat sy eie “Olimpiese Spele” hou. Die Kaalvoetspele soos dit gedoop is, wys vir die wêreld dat “’n bespotting van Christenskap” wat ten toon gestel is tydens die openingseremonie van vanjaar se olimpiese spele, nie geduld sal word nie, maar dat atlete kan kragte meet met Christen Geloof, Hoop en wedersydse Liefde.
Wat ‘n skouspel was vanjaar se konsert nie! Die wekelange voorbereiding en opoffering het groot dividende betaal. Puik klank en beligting met verhoogbestuur wat hulself ‘n pluimpie kan gee, want om die dekor 25 keer te verander sonder om die vloei van die konsert te vertraag, vat ‘n spesiale poging. Dit is duidelik vanuit die gehoor dat elke akteur en aktrise hulle rolle met oorgawe vertolk. Dit mag dalk oordrewe klink, maar dit is asof die woorde en gepaardgaande emosie deur elkeen self gepen en ervaar is. Die absolute oortuiging waarmee items gelewer is sonder om self te sing en die gevoel wat met gebare, lyftaal, dans en gesigsuitdrukkings oorgedra is, was wonderlik. Elke lied het tot die verhaal bygedra en die milieu word deurgaans deur die verteller ingekleur.
Vanjaar se konsert het die emosies laat opvlam van die eerste item “Soos ‘n vlam in die nag” en met elke Afrikaanse lied daarna wat jou opnuut laat besef wat ‘n voorreg dit is om Godvresende Afrikaners te wees wat saam kan lag en huil tussen jou eie mense. Die afsluiting “Dis wie ons is” was so gepas. Dit het my ook laat wonder hoe kry tannie Lida elke jaar so baie mense wat bereid is om hulle trots in hulle sakke te steek en te sê hoe kan ek die mense help vermaak. Om ‘n beste lied te kies voel half onregverdig en gelukkig was dit die werk van die drie beoordeelaars. Met pure plesier het “Swem, Jannie, swem”, “Tannie Katesbes”, “Orania Kletsrym”, “Breek my Hart” en “Ruiter van die windjie” beslis al die regte knoppies gedruk. Ek dink ook spesiale vermelding moet gemaak word van Orania Kletsrym wat die enigste oorsproklike lied van die aand was. MC Frikkie en Eben Klein het met ‘n foutlose vertoning die gehoor laat skaterlag en saam laat kletsrym. Dié kletsrym is oorspronklik vir vanjaar se Orania Skouspel deur Frans de Klerk geskryf.
Tannie Katesbes is as wenner deur die beoordeelaars aangewys en was waardig van die titel maar ek kan net dink dat dit ‘n moeilike besluit moes wees. Die gebruiklike veiling aan die einde van die aand waar die gehoor deur middel van hulle beursies hul gunsteling kan aanwys, was ‘n kop aan kop besigheid met duisende ora wat vir ‘n pioniersbeeld ingesamel is. James Kemp wat die veiling behartig het was op sy stukke en het die veiling in ‘n komiese bydrae tot die konsert omskep.
Dae na die konsert was my stem nog seer van al die saamsing. Die liedjies het nog in my kop weerklink en ek het gewonder hoe Janneman Roux in Ruiter van die Windjie sy bene so hoog kon skop en hoe lekker dit was om as een man “Ja” te skreeu elke keer as Eben de Klerk daarvoor vra. ‘n Gemeenskap word gevorm en kry standvastigheid deur dit wat ons saam doen en beleef. Mag die Kaalvoetkonsert sy rol in die verband vir altyd vervul.

Post Views: 88