Koerania

Esna de Beer (56) se eerste tree na Orania is in 1998 gegee toe sy en haar gesin van George af verhuis het. Haar en Bernhard se seun, Roedolph, was toe slegs 1 jaar oud. Ters Schumann, een van die stigterslede van OSK (Orania Spaar en Krediet) en haar skoonpa op daardie stadium, het hulle aanhoudend genooi om te kom kuier. So gevra, so gedaan. In 1996 het hulle ‘n eerste besoek aan Orania gebring, die dorpstoer saam met oom Carel Boshoff ervaar en daarmee was die saad gesaai.
Die moontlikheid van ‘n skoenfabriek in Orania het vir Bernhard gewink en daarom trek hulle toe in 1998 sak-en-pak, met ‘n baba, na Orania. Die skoenfabriek het nie gerealiseer nie, maar Bernhard se hande staan vir niks verkeerd nie en hy begin huise se binnemure bou en herstelwerk doen. Hy bou kaste en toonbanke vir ‘n vale.
“Dit was nie vir ons ‘n moeilike besluit nie. Ons het toe oë na Orania toe gekom. Dalk voortydig, maar ek glo dat elke ding op sy tyd gebeur. Ek glo nie in toeval nie. Ons het wel swaar gekry in ons eerste twaalf jaar omdat ons finansieël harde bene moes kou,” sê Esna op ‘n ernstige noot.
Esna was skaars drie weke in Orania toe sy deur Hendrik le Roux van die CVO-skool genader is om op kontrakbasis by die intermediëre fase met byna alle vakke in te skakel. Sy vertel hoe die skool van hulle huidige terrein na die Kuierstoep getrek het en later weer terug na waar CVO-skool nou staan. Die skool het uit ‘n volle 24 kinders bestaan. Later het Sy die Grondslagfase-pos beklee en dit was haar voorreg om die Gr 1, 2 en 3’s in een klas te hê. Esna geniet ‘n onderwysmodel wat oorkoepelend is wanneer daar ‘n groter ouderdomsgroep in een klas is. Sy hou nie daarvan dat ‘n kind ‘n graad “spring” nie. Sy argumenteer dat elke graad se werk toelaat dat ‘n kind daardeur verryk kan word.

In 1999 skuif Esna na Volkskool om die grondslagfase waar te neem. Graad O word later bygevoeg om die kleingoed in hul ontvangsjaar ook te help ontwikkel. “Dit was die lekkerste 12 jaar van my lewe gewees en tannie Anna Boshoff was die ongelooflikste mentor vir my,” sê sy met ‘n tikkie nostalgie.
Esna kan nie anders as om te onthou dat hulle ook in Orania met sjampanje in die hand gewag het dat die aarde moes vergaan toe die jaar 2000 aangekondig is.
Dié talentvolle vrou verwys na haar Orania-sprokie waar ouers en kinders in tipiese selfleerstyl saam alles laat gebeur het. “As mense het ons dié kleindorp leefstyl en omgee ingeboet. Tog bly dit elkeen se verantwoordelikheid, dit hoef nie so te wees nie,” sê sy terwyl haar gedagtes ver teruggaan.
Sy verlaat Volkskool in 2011 en doen vir ‘n skoonmakerspos by die CVO-skool aansoek. Sy word vir ‘n onderhoud genooi, maar hulle benodig ‘n assistent by die Graad R klas. Esna gryp die avontuur aan en begin sommer ‘n huiswerkgroep vir Gr 1 tot 9 kinders. “Ek moes vir myself werk skep om my salaris aan te vul,” vertel sy met oortuiging. Na drie maande as assistent juffrou ruil sy rolle met die amptelike juffrou wat ‘n gesin wou begin, en toe word sy die Gr R-pos aangebied.
‘n Hoogtepunt van 2014 onderbreek haar gedagtegang en sy vertel van die revue wat sy en juffrou Ciska de Wet aangebied het, met die titel Gee my ‘n rede. Hulle het self die teks geskryf, want die emmigrasie kwessie was toe al brandend. Daar het 218 kinders aan die revue deelgeneem. Sy glimlag toe sy vertel dat die storie geeindig het met die gesin wat besluit het om in Suid-Afrika te bly.
Esna is self lief vir die verhoog en verskeie verhoogstukke, optredes by die gewilde Kaalvoetkonserte, monoloë en ander gedramatiseerde stukke se tekste het haar naam op.
In 2014 verskyn ‘n advertensie vir die bestuur van die Huppelkind Dagsorgsentrum. Esna maak ‘n afspraak met Lida Strydom by die dorpskantoor en gesels ook later met Lenie Kotze oor die potensiaal van die pos. Sy beskryf haar behoefte om by die sentrum betrokke te raak. Sy aanvaar ‘n halfdagbestuurpos, maar onthou dat sy nog nooit net halfdag gewerk het nie.
Huppelkind Dagsorgsentrum open Januarie 2015 op die hoek van Pêrellaan en Robynstraat in Orania-Wes met 12 kinders en eindig die jaar met 36 kleingoed. In 2017 skuif die sentrum na die CVO-skool se terrein met 65 kinders. Vanjaar vier Huppelkind hul tiende bestaansjaar, maar daar word ‘n groot makietie vir 2025 beplan.
Jy loop jou teen ‘n muur van positiwiteit vas wanneer Esna gevra word oor laagtepunte in haar lewe. “Jy groei uit laagtepunte en word sterker vir volgende uitdagings. Ek kon al baie vir myself afvra hoekom iets gebeur het. Ek kon al telekemale WEET waarom iets gebeur het,” is haar reaksie.
Sy onthou wel die duwweltjies en miere wat ORAL was toe hulle in Orania arriveer het. Sy voeg dadelik by dat daar ‘n oormaat van vrugtebome in al die oop erwe was wat almal aan kon smul.
Haar familie is getroue ambassadeurs van Orania en hulle het verstaan dat die jong egpaar se trek na Orania ook ‘n avontuur was wat hulle jeug weerspieël het.
Die Klein Reus lê Esna na aan die hart, ook omdat sy die onthulling bygewoon het. “Dit waarvoor die Klein Reus staan is deel van my lewe en wese,” sê sy. Esna vertel van Sebastiaan en Magriet, die twee karakters wat by Huppelkind ‘n instelling geword het en wat die Klein Reus se niggie en nefie is. Sebastiaan is ‘n huppelkind en hou sy oë op die toekoms. Hy is uitbundig en vry en almal se maatjie. Magriet en hy het beste maatjies geword. Sy is ‘n moedertjie en altyd besig om blommetjies te pluk. Magriet is die toonbeeld van ‘n ma van baie kinders in wording. Hulle gaan op groot avonture by Huppelkind. “Dit is my werk om tydens saalopening 3 keer ‘n week, kwaliteit eienskappe by die kinders tuis te bring.
Daar is pas ‘n vlagpaal by Huppelkind afgelaai. Esna en haar personeel sien daarna uit om die kultuurerfenis oor te dra van ‘n vlagversie wat opgesê word terwyl die vlag gehys word.
Op ‘n persoonlike vlak was daar ook al noemenswaardige hoogtepunte. “Ek is dankbaar dat ek letterlik een van ‘n paar vroue was wat met ‘n beiteltjie die voetstuk van die Koeksistermonument se gaatjies kon uitkap. My ma en sussie was by toe die monument onthul is, en hulle is my Kaalvoetvroue.”
Een van die grootste leerskole was die huisie in die hoek wat sy vir haarself laat bou het. Twee van haar drie kinders is in Orania gebore. Middelkind Wilhelm is gebore waar André van Heerden se kantoor in die dorpskantoor, voorheen die Verpleeginrigting, is. Anella, haar dogter, is in Hopetown hospitaal gebore.
“In September 2023 het ek 2 rotsgravures in Orania ontdek wat nog nie voorheen aangeteken was nie. Ek het ‘n rotsgravuur van ‘n leeu gekry. My vriendin Cornelia Holm was saam met my toe ek dit vind.”
Jy eien gou ‘n ware Oraniër wanneer hulle vir jou sê dat eienaarskap met verantwoordelikheid vir hul die belangrikste beginsel van Orania is. Esna dink dat mense bevrees is om die skuif na Orania te waag. Sy haal finansies en onkunde as twee faktore aan wat mense daarvan weerhou om te trek. “Mense moet hul huiswerk doen voor hulle trek, want jy moet besef dat jy hard gaan moet werk om te oorleef. Orania is nie vir sussies nie.”
Esna se raad aan die jeug is dat hul moet leef sodat hul positiewe energie ander kan inspireer. Sy voel dat ‘n Orania kind nooit moet dink dat die wêreld hulle iets skuld nie. “Jongmense moet uitgaan en foute maak. Deur foute te maak beweeg jy vorentoe.”
“My pa het altyd gesê, die enigste graad wat jy eintlik moet hê is ‘n ruggraat. By Huppelind sê ons: ”Rol op julle moutjies en wikkel julle boudjies!” Huppelkind het ‘n splinternuwe projek geloods wat Steun Fase 2 heet. Kontak Huppelkind om meer uit te vind en jou bydrae te lewer.
Sy wil nog oor mense en klassiekale en selfgedrewe onderwys skryf. Sy wil haar drie kinders sien gelukkig wees. Sy wil steeds ‘n verskil in kinders se lewens maak. “Ek dink ‘n mens moet weet dat die belangrikste in die lewe is verhoudings met die mense rondom jou. Mens moet baie hard werk aan verhoudings: vriende, familie, gesin en die liefde van jou lewe. Mens leer baie goed op skool, maar die skool van die lewe leer jou nog meer. Dit bepaal saam met wie en waar jy eendag jou plek gaan vind sodat jy kan sê: EK het!”
Esna bevestig dat Orania jou in totaliteit opneem, maar dat dit slegs gebeur as jy bereid is om jouself te GEE. Dit is vir haar heerlik dat haar kinders altyd om haar was en kon deel in konserte en vreugde. Volgens haar oortref Orania alle dorpe se kwaliteit van ‘n gemeenskapslewe.

Post Views: 126