Koerania

Riaan Jacobs, besturende direkteur van ORASOL, het pas teruggekeer van Hefei in Sjina, waar die grootste omsetterfabriek in die wêreld, Sungrow, gesetel is. Riaan het saam met nog kundiges die stad besoek om die aanskakeling en toetsing van die battery en omsetterstelsel vir Orania mee te maak.
“Alhoewel ons nie geleentheid gehad het om die Orania-idee met die Sjinese te toets nie, is ek oortuig dat die vryheidsgedagte nie deel van hul kultuur vorm nie,” vertel Riaan. Behalwe vir die uiters hoë vlak van professionaliteit wat die Suid-Afrikaners daar beleef het, was die grootte van die 90 hektaar fabriek ’n belewenis. Hy noem dat daar twee bykomende afdelings is wat vir battery- en toerusting vir waterstofopwekking se vervaardiging verantwoordelik is. Die feit dat daar 6 000 personeel in die fabriek werksaam is was verrassend, aangesien robotte die meeste van die vervaardiging doen.
Die twee kundige Suid-Afrikaners wat saam met Riaan die reis onderneem het is Bertus Schreuder, verkoopsbestuurder van Sungrow Suid-Afrika en Lukas Scholtz, ’n bekwame elektroniese ingenieur verbonde aan Heroldts, die groothandelaar en verspreider van Sungrow se produkte in Suid-Afrika.
Riaan verduidelik dat Heroldts ’n deel van die waarborgrisiko dra en dat Lukas ’n waardevolle bydrae kon lewer met kritiese vrae gedurende die fabrieksaanvaardingstoets (FAT). Lukas en die ingenieur van Sungrow sal elk ’n primêre rol tydens die inwerkingstelling van die battery in Orania speel.
Orania se battery, wat sal aanleiding gee tot ’n beurtkragvrye dorp vanaf 06:00 soggens tot 22:00 saans, is tans ter see en Sungrow se ondervinding met verskepingstye, hawe en doeanebeheer ingereken, behoort die kosbare vrag rondom 18 April in Orania te arriveer. “Aangesien daar baie toerusting is wat saam moet werk om die proses glad te laat verloop, is die periode baie kompleks en ons moet ons op kundiges verlaat,” beklemtoon Riaan. Die ORASOL-span, Ingenieursdienste van die Orania Dorpsraad en kontrakteurs vertrou dat die installasie en aanskakeling binne ’n maand daarna afgehandel behoort te wees.
Riaan en die ORASOL-span is al twee jaar met die beplanning van ’n werkbare oplossing besig. “Wat my baie trots maak van die projek is dat ons ’n oplossing soek vir ons hele gemeenskap en nie net vir sektore daarvan nie,” meld Riaan. Hy voeg by dat professor Jannie Rossouw, wat behulpsaam is met die opstel van Orania se ekonomiese ontwikkelingsplan, aangedui het dat Orania se ekonomie R7miljoen per jaar skade ly, as gevolg van beurtkrag. “Dit kan grootliks voorkom word met hierdie plan,” bevestig Riaan met trots.
Riaan skets met oorgawe dat die samewerking, deelname en ondersteuning van Oraniërs vir hom ’n riem onder die hart is. Hy sluit af: “Hierdie projek is rêrig een van die mees omvattende oplossings, per persoon in ’n gemeenskap, vir die beurtkragkrisis en die strewe na energie-onafhanklikheid.”

Riaan Jacobs, besturende direkteur van ORASOL, Bertus Schreuder, verkoopsbestuurder van Sungrow Suid-Afrika, twee Sungrow-ingenieurs en Lukas Scholtz, elektroniese ingenieur van Heroldts, binne die Sungrowfabriek in Hefei, Sjina.
Riaan Jacobs, besturende direkteur van ORASOL, Bertus Schreuder, verkoopsbestuurder van Sungrow Suid-Afrika, twee Sungrow-ingenieurs en Lukas Scholtz, elektroniese ingenieur van Heroldts, binne die Sungrowfabriek in Hefei, Sjina.
Riaan deel met dankbaarheid dat daar nie enige Covid-gesprekke was nie, maar dat daar heelwat gehoes- en geproes was wat hom nogal ongemaklik gelaat het.
“Daar is slegs ’n reuse bergreeks tussen Hefei, die stad wat hulle besoek het, en Wuhan, waar Covid sy ontstaan gehad het.” Hy het ’n klompie mense gesien wat steeds maskers dra, maar dit was nie ’n algemene gesig nie

Meer oor Sungrow


Sungrow het twee ander inter-nasionale fabrieke met ’n totale werknemerskorps van ongeveer 14 000 persone. Sungrow het sover die grootste battery in die wêreld gebou, 1400MWh in vergelyking met Orania se 4.8MWh battery. Volgens aanduidings en berekenings bou hulle daardie grootte battery in minder as twintig dae.
Post Views: 285