Koerania

Die Kaalvoettrap – waar diep spore lê

Die Kaalvoetvroue van Orania, wat verwys na die Voortrekkervroue wat bereid was om kaalvoet oor die Drakensberge te stap, pak projekte aan om Orania te verfraai. Die Kaalvoettrap wat twee dele van Orania verbind is ʼn voorbeeld van so ʼn projek. Aan die een kant van die trap is daar ʼn tydlyn wat Orania se geskiedenis op teëls uitbeeld.

Orania se kaalvoettrap in Robynlaan is uit mosaïek gemaak en beeld ʼn boom waarvan die wortels diep gegrond is, uit. Hierdie boom is baie simbolies omdat dit ook die vrugte dra (olywe en pekanneute) wat in Orania verbou word.

Die vier takke van die boom stel elk ‘n seisoen van die jaar voor: lente, somer, herfs en winter, elk met sy kenmerkende kleure.

Daar is geitjies, voëls en vlinders, om ons bewaringsgesindheid uit te beeld. Tussen die wortels is kaalvoetspore, om die jaarlikse Kaalvoetkonserte te gedenk.
Links aan elke trap is daar ‘n terrakotta teëltjie waarop ‘n gedenkwaardige gebeurtenis in die geskiedenis van Orania se ontwikkeling uitgebeeld is, ‘n tydlyn wat die geskiedenis vasvang.

Die teēls was gedeeltelik skenkings vanuit die gemeenskap, soos byvoorbeeld waardevolle porseleinborde wat gebreek het. Daar is historiese mosaïekstukkies, afkomstig van die huidige Dorpsraadgebou wat deur Waterwese gebou is. Dié mosaïekstukkies is op die trap herbenut. Kosbare stukkies is op die herwinningsbank gevind.

Aan die regterkant is ʼn kanaal, waar fietsryers hulle fietse kan op- of af stoot, aangebring. Die trappe het ʼn boog wat in feestye met liggies versier word.

Die boom kry sy lig van die son, maar sy krag en energie van Jesus Christus waarin hy met sy wortels geanker staan. Die kunstenaar was die bekende Cornelia Holm, ‘n inwoner van Orania.

Post Views: 118