Koerania

deur die Burgemeester se Bril – Des 23

Die afgelope tyd fassineer die woord gemeenskap my. ‘n Mens kry dadelik die idee van behoort, om deel te wees, om saam te wees, om indiwiduele bydraes te waardeer. Gemeenskap, so voel dit vir my is iets moois, geweldig kosbaar. Dit is iets om na te strewe.
Daar bestaan verskeie definisies vir gemeenskap. Maar wat beteken dit vir ons in Orania? Sou dit kon beteken dat ons saam aan ‘n storie skryf? Dalk is ‘n gemeenskap ‘n groep mense wat besig is om saam aan ‘n identiteit te bou, want daar is waarlik iets van almal in die storie van ons gemeenskap. Natuurlik is daar baie verskillende soorte gemeenskap, maar vir my is die gemeenskap van Orania die een wat nou van belang is, want dit is die een waarin elkeen van ons ‘n unieke rol speel.
Is gemeenskap die rede dat ons tog as ‘n groep verstaan dat ons morele integriteit wil bevorder? As ‘n groep het ons sekere verwagtinge en sekere ideale en daarom deel ons almal in die vreugde as Orania sukses behaal of van buite af geprys word. Maar dit maak ook seer as Orania van buite-af aangeval word. Dit maak nog seerder as Orania van binne-af aangeval word. As jy na binne toe skiet, dan skiet jy tog ook ‘n deel van jouself raak. Dit is daardie wonde wat die hele gemeenskap laat pyn.
Gemeenskap is om saam aan die storie te skryf, selfs wanneer ons van mekaar verskil, want ons het net mekaar oor. Gemeenskap is om betrokke te raak en jou stem te laat hoor, want ons storie is belangrik genoeg om mee moeite te doen.
Vanoggend vertel iemand my dat hy sy tuinwater deur die aand aan vergeet het en hoe skuldig hy daaroor voel omdat ons nou almal moet mooi werk met die rouwater. Hy vertel dat sy buurman in die vroeë oggendure sy kraan kom toedraai het. Die buurman wat elke oggend vir hom waai, het vanoggend vir hom vinger gewys. Hy het dit so aanvaar, want hulle is daagliks deel van mekaar se storie.
In Orania skryf ons ‘n nuwe storie vir Afrikaners. Aan die een kant behou ons ‘n identiteit, met ‘n eie taal en geskiedenis, aan die ander kant skryf ons oor nuwe beginsels met ‘n nuwe woordeskat, maar dit is alles deel van óns storie.
Mag ons gemeenskap beleef in Orania. Mag ons met sagte oë na mekaar kyk, veral as ons verskil.

Post Views: 125