Koerania

Cherise Barnard is ‘n 20 jarige meisiekind wat kleintyd al die voorliefde ontwikkel het om met haar vingers oor die knoppies van ‘n kamera te speel. Sy is egter ‘n jongmens met haar voete vierkantig op die aarde geplant.

Sy het in 2023 haar Hoër sertifikaat in fotografie aan die Potchefstroom Akademie verdien. Potchefstroom was vir haar ‘n heerlike studenteplek, maar sy het veral genot daaruit geput omdat sy ‘n wye spektrum werksgeleenthede, wat fotografie aanbetref, daar kon kry. “Ek het soveel kreatiewe mense ontmoet met wie ek gewerk het,” noem Cherise.

Dié slimkop wou oorspronklik mikrobiologie studeer, maar het besluit om eers haar liefde vir die kamera en foto’s neem as ‘n beroepsopsie op die proef te stel. Sy het, soos meeste mense, met haar foon foto’s begin neem voordat sy met ‘n kamera begin eksperimenteer het. “Mikrobiologie gaan nie weghardloop nie en ek kan dit dalk later studeer, maar ek kyk nie tans terug nie!”

Cherise is in Kempton Park gebore en sou nooit kon voorspel dat sy ‘n eie besigheid in fotografie en videografie met ‘n tikkie grafiese ontwerp daarby in Orania sou begin nie. Haar studies was ‘n avontuur waar sy baie ondervinding opgedoen het terwyl hul as studente met professionele toerusting kon leer en werk. Die blootstelling aan moontlikhede in die beroep en om programme te leer ken wat jy kan aanwend om redigering te verbeter het haar gefassineer.

Volgens haar is ‘n foto ‘n geskenk vol kosbare oomblikke en die geleenthede wat elke foto jou bied om kreatief daarmee te werk is legio. Sy swiep haar lang hare oor haar skouer terwyl sy vertel dat sy nooit gedink het dat sy dit so sou geniet om troues se foto’s te neem nie. “Die wonderlike ding van mense is dat hulle behoeftes altyd verskil en dit sorg vir opwinding en afwisseling in die prosesse van fotografie en videografie,” beduie sy.

Sy is nie bekommerd dat kunsmatige intelligensie die rol van ‘n fotograaf sal vervang nie. Sy is optimisties wanneer sy noem dat ‘n hoë werksetiek en standaard van werk van kardinale belang bly. “Dit is uitdagend om kunsmatige intelligensie met jou werk te integreer, maar van die elemente kan jou werk se kwaliteit en variasie geweldig uitlig,” vertel Cherise.

Wanneer dit by die uitdruk van foto’s kom is sy beslis selektief. Sy erken dat dit lekker is om na fisiese foto’s te kyk en daaraan te vat, en dat gunstelinge en voorkeure fotografie as ‘n kunsvorm beklemtoon.

Die belangrikheid om digitale foto’s te bewaar verstaan sy, want dit is op verskeie sosiale media platforms waar internasionale blootstelling kan plaasvind. Dié jong fotograaf geniet ‘n fotosessie waar ‘n indrukwekkende tema met ‘n verskeidenheid klere en karakters uitgelig kan word. Die neem van meer formele foto’s soos vir troues en matriekafskeide wen met ‘n kortkop.
Sy kies met moeite tussen kleur of swart en wit fotografie. Swart en wit foto’s voel vir haar tydloop en maak vir haar ‘n lieflike visuele impak.

Afhangende van die gevoel wat jy met ‘n foto wil skep werk die natuur altyd tot ‘n fotograaf se voordeel. “‘n Moderne of outydse gebou kan ‘n unieke storie vertel en ‘n foto totaal herskep.”

Aangesien sy die redigeringsproses geniet is ‘n kunsfoto wat vreeslike redigering vereis nog ‘n gunsteling. Sy is wel duidelik toe sy verduidelik dat sy volwasse modelle verkies omdat hulle verstaan wat van hulle verwag word. In ‘n studio kan sy die lig bestuur, maar die uitdaging van buitelug fotografie hou dit interessant.

Sy drink graag eerder ‘n cuppachino terwyl sy redigering doen en plat skoene met ‘n langbroek bly maar ‘n praktiese keuse vir die op-en-af van haar werk. Dié meisie het ‘n oog vir ‘n ideale fotohoek en vergryp haarself maklik aan Youtube videos wat filmtemas bevat. “Ek het nie tyd vir fliek nie. Ek wil iets leer as ek tyd neem om daarna te kyk,” sê sy prontuit.

Vir nou sluit sy die behoefte aan muisneste uit want sy fokus daarop om ‘n besigheid te bou. Haar vriende raak nou op ‘n streep verloof en sy sien daarna uit om hulle foto’s te neem, maar stel nie self nou in die liefde belang nie. “Alles in goeie tyd.”

Haar mikpunt binne die volgende vyf jaar is om ‘n studiospasie te laat bou waar sy klas kan gee in fotografie en videografie. Sy wil graag haar eie kurrikulum opbou sodat sy vir aspirant fotograwe, selfs baie jong kinders, ‘n mentor kan wees.

Cherise se boodskap aan jongmense: “Dink mooi wat jy met jou tyd wil doen. Studeer iets wat ‘n ingeligte keuse is en wat jou passie is. Niemand van ons moet ‘n keuse namens iemand anders maak nie, maar jou sukses sal kom met ‘n persoonlike keuse.”

Sy neem geestelike gesondheid ernstig op en wil ander aanmoedig om hulself soms met tyd te bederf. “Ek wil dinge doen wat energie in my terugpomp. Ek eis die tyd vir myself. Almal is dit aan hulself verskuldig.”

Kontak Cherise by 076 727 0088 om meer te wete te kom oor die passievolle fotograaf wat jou belange altyd eerste sal stel.

Post Views: 142