Grepe en voetwerk lei tot stoeivernuf

Grepe en voetwerk lei tot stoeivernuf

Orania se manne het onlangs die stoeimat oopgerol vir een van die beste sportsoorte wat enige seun of jong man kan aandurf. Jaco van der Merwe is een van die afrigters en moedig jong seuns, studente en ouer mans aan om by hul oefening aan te sluit. Cobus Kirsten en Willem Strauss neem ook die leisels tydens afrigtingsessies. Niklaas Buys tree aan wanneer daar oor selfverdediging gepraat word.
Die oefentye is op Maandae vanaf 17:30 tot 19:00 en Woensdae oefen kinders tot graad 7 (tussen 6 en 13 jaar oud) vanaf 14:45 tot 15:45.
Kontak vir Jaco by 083 963 7112 vir meer besonderhede of om aan te sluit by die bestaande groep wat reeds hard oefen aan hul soepelheid, veerkrag, spoed en stoeivernuf.

TAGS:

Pretprater maak ‘n eerste draai in Orania

Pretprater maak ‘n eerste draai in Orania

Ervare pretprater en motiveringspreker, Elsabé Aldrich is al vir 25 jaar besig om gehore in die land en Namibië met haar staaltjies en wyshede op te kikker. Sy glo die mens se vermoë om te lag werk soos hemelse bruissout, om die sooibranderigheid van dié ou lewe weg te borrel. Sy praat guitig oor vonkelverhoudings en ‘n lewe van oorwinning. Haar gehore strek van die korporatiewe wêreld tot onderwysers, vrouens en egpare.
Tieners is haar onderwyshart se punt. Van haar tienerboek Is jy cool of common? Is daar sedert 2000 al meer as 40 000 eksemplare verkoop. Elsabé sal graag al Orania se hoërskoolleerders met haar tienerkursus, wat in graadgroepsverband aangebied word, wil bereik.
Sy het op 5 September met ‘n groep tieners by die Volkskool Orania gesels. Daar is geesdriftige planne om haar gedurende Maart 2025 vir ‘n paar dae in Orania te laat optree. Die Okkasie Hasie sal meer besonderhede verskaf sodra al die planne bevestig kan word.

Elsabé Aldrich het die Volkskool Orania besoek en die tieners en personeel het haar spitsvondige aanbieding as prettig en belangrik beskryf.
TAGS:

Solidariteit bederf op Sekretaressedag

Solidariteit bederf op Sekretaressedag

Op Woensdag 4 September is sekretaresses deur Solidariteit se Kantoor-praktisynsnetwerk by die Chris Jooste Ouditorium verwelkom om ‘n bietjie bederf te geniet.
Sanri Stone, Netwerk Koördineerder vir Solidariteit het die dames verwelkom en aangemoedig om by die kantoorpraktisynsnetwerk aan te sluit deur ‘n gratis profiel te skep.
Dia van Staden, eienaar van Diamant Kommunikasie en Opleiding en redakteur van Koerania het die dames toegespreek om hul te bemagtig op die terrein van effektiewe kommunikasie. Daar is heerlik gelag en selfs gesing om die moontlikhede van kwaliteit kommunikasie met pret, klank en volume te beklemtoon. Dia het verwys na telefoonetiket, e-poskommunikasie, lyftaal en sosiale etiket wat soms agterweë bly. Die belangrikheid om soms by die werk te speel, om met ‘n positiewe houding by die werk op te daag en om werklik teenwoordig te wees sodat daar behoorlik geluister kan word wanneer gekommunikeer word, is aangeraak.
Chantel van Heerden, ‘n voorkoms-konsultant, het met die dames oor hul voorkoms en kantooretiket gesels. Sy het praktiese voorbeelde uitgelig en getoon dat dit nie duur of ingewikkeld hoef te wees om ‘n professionele beeld uit te dra nie. “Wees trots daarop om skoon, netjies en professioneel in die werkplek te wees,” het Chantel genoem. Sy het ook ‘n paar wenke genoem van wat om nie aan te trek nie, aangesien dit nie ‘n professionele beeld voorhou nie.
Elke dame is verras met ‘n pragtige geskenkpakkie en daar is gesmul aan heerlike happies terwyl die koffie en sap geskink is en die gesels spontaan gevloei het.

Sanri Stone, Chantel van Heerden en Dia van Staden het as sprekers tydens die Sekretaressedag opgetree. - Foto - Danielle Struwig
Chantel van Heerden, voorkomskonsultant, motiveer vroue om trots op hul voorkoms, intern en ekstern, te wees.
TAGS:

Die Wakis sal ‘n alternatief bied

Die Wakis sal ‘n alternatief bied

Dia van Staden – Redakteur

Meer as vyfhonderd lede van die Orania gemeenskap het hul name op ‘n versoekskrif geplaas wat die wens uitgespreek het dat die Kleretrommel, wat deel vorm van die Orania Helpmekaar projekte, weer moet funksioneer soos daar jare gelede besluit is.
Elbie van Zyl het die inisiatief geneem om namens die inwoners ‘n formele versoekskrif aan Orania Helpmekaar te rig. “Eerstens wou ek Orania Helpmekaar bemagtig om besluite te neem op grond van stemme uit die gemeenskap. Ek het gedink hul sou na die gemeenskap wou luister omdat verteenwoordigers van Orania Helpmekaar (OH) aanhoudend daarna verwys het dat die situasie “moeilik” was,” verduidelik Elbie.
Elbie vertel meer oor die oorsprong van die Kleretrommel:
Wyle mev Adelaide Boshoff, wyle Carel Boshoff III se skoonsuster, het vertel dat onbekende persone in die eerste week of twee van Orania se ontstaan uit die bloute opgedaag het met ‘n bakkievrag klere en ander huishoudelike benodighede wat hul spesifiek vir Oraniërs wou skenk. Die gemeenskap het nie op daardie stadium uit behoeftige mense bestaan nie, maar die herhaling van skenkings was vir die Orania-ideaal en hul wou die mense van Orania op ‘n konkrete manier ondersteun. As gevolg van die skenkings is die Orania Maatskaplike Raad, wat later Orania Helpmekaar geword het, op die been gebring, sodat die skenkings geadministreer kon word.
Die versoekskrif was volgens Elbie geensins ‘n uitdaging, petisie of veldtog, soos wat OH-bestuur beweer het nie. Dit was volgens haar en ander bloot ‘n poging om ‘n belangrike kwessie op ‘n formele wyse aan te spreek. Die versoekskrif het dit gestel dat die Kleretrommel se skenkings nie aan nie-Oraniërs of persone sonder verblyfreg verkoop behoort te word nie, aangesien dit eksklusief vir Oraniërs se gebruik gestig is.
Die ondertekenaars van die versoekskrif het genoem dat ‘n gevolg van die verkope aan enige individu daartoe lei dat skenkers vertroue verloor in die doelwit en dat Oraniërs nie die fasiliteit kan benut soos dit aanvanklik bedoel was nie.
Dit is wel bekend dat ‘n Afrikanerdame uit ‘n naburige dorp ‘n bakkievrag voorraad by die Kleretrommel kom koop het om in ‘n tweedehandse winkel te gaan herverkoop. Koerania verneem dat dié ontevredenheid ook tot die versoekskrif aanleiding gegee het.
Nadat Elbie ‘n paar gesprekke met rolspelers in die gemeenskap onderneem het is daar vir Maandag 29 Julie ‘n openbare gesprek gereël. Tydens die gespreksgeleentheid is die bewoording van die versoekskrif herhaal en Elbie het geleentheid gehad om daarop uit te brei.
Frans de Klerk, voorsitter van die OH direksie, het verduidelik dat die doel van die Trommel is om bekostigbare klere aan die gemeenskap beskikbaar te stel en om fondse wat gein word, weer vir die werk van die maatskaplike instelling aan te wend. “Hy het gesê dat die huidige situasie nie die doel van die Trommel belemmer nie en dat hy daarom geen rede sien om aan die versoekskrif te voldoen nie,” vertel Elbie.
“Na afloop van die gesprek kom dit voor asof OH eerder die beeld na buite prioritiseer as om die wense van die inwonende gemeenskap te beskerm,” noem Elbie. “OH se Facebook-plasing na afloop van die gesprek het dit laat lyk of die persone wat die gespreksgeleentheid bygewoon het, opgewonde was oor die ontwikkeling van die Trommel as ‘n gemeenskapswinkel, terwyl die meeste persone saamgestem het dat dit in die eerste plek nie as ‘n winkel bedryf behoort te word nie en beslis die versoekskrif gesteun het.”
Koerania het Orania Helpmekaar se Facebookblad besoek en die volgende inligting daar gekry: Helpmekaar is ‘n instelling sonder winsmotief, gekenmerk deur ‘n vrywillige en interaktiewe werkswyse. Deur middel van goeie samewerking met ander instellings, werkgewers en inwoners, is ons doel om hoop te skep vir Afrikaners in Orania.
“Helpmekaar word tans met wantroue bejeen, en ’n gemeenskapsinstelling moet homself tog nie van die gemeenskap vervreem nie,” stel Elbie.
Elbie gesels tussenin dat klagtes op kletsgroepe nie noodwendig oplossings bring nie, maar dat dit tog iemand ‘n valse gevoel gee dat hul ‘n waardevolle inset lewer. Die versoekskrif was ‘n poging om die kwessie op ‘n ordelike wyse aan te spreek.
Koerania het op Maandag 9 September ‘n e-pos aan Pieter Bisschoff, die hoof van inligting en bemarking by OOM gerig om van die vordering na afloop van die openbare gesprek te verneem. Hy het die redakteur geskakel en verwittig dat daar nog geen formele besluite geneem is nie, maar dat hul sensitief is vir die gemeenskap se gevoelens.
Tydens die gespreksgeleentheid is daar blykbaar gesê dat privaat inisiatiewe uit die gemeenskap verwelkom word. Op 29 Augustus is ‘n vereniging gestig om ‘n eiesoortige gemeenskapstrommel op die been te bring. ‘n Loodsingskomitee van tien individue is gekies om ‘n formele plan te beraam. Daar is intussen ‘n vergadering deur die komitee belê waartydens hul op die naam: Die Wakis, besluit het.
“Dit sal ‘n ruimte wees waar mense met vrymoedigheid kan skenk, met die wete dat dit slegs na Oraniërs sal gaan. Daar is beslis groot behoefte in die dorp aan so ‘n instansie. Mense het goed in hul huise wat hul nie weet vir wie om dit te gee nie,” vertel die lede van Die Wakis se loodskomitee.

 

TAGS:

Vry vir iets nuut

Vry vir iets nuut

Alistair van Heerden – Begrond

Vryheid volgens die Bybel is ’n besondere ryk woord en gaan veel dieper as die oppervlakkige idees van vryheid wat die wêreld aanbied. Vryheid is nie beperk tot veiligheid nie, dit is nie beperk tot stemreg nie, dit is nie ‘n klein dorpie met kinders in die strate nie.
In die samelewing word vryheid dikwels gelykgestel aan die afwesigheid van beperkinge, ’n toestand waarin iemand kan doen wat hy wil. Hierdie wêreldse siening van vryheid is egter gebrekkig, omdat dit nie rekening hou met die dieper slawerny van die menslike natuur nie—slawerny aan die sonde.
In die Bybel, en spesifiek in die lig van die evangelie van Jesus Christus, het vryheid twee duidelike aspekte. Eerstens behels vryheid ’n vrymaking van iets—soos sonde, onderdrukking, en die heerskappy van die duiwel. Tweedens behels dit ’n vrymaking tot iets—soos die vryheid om God te dien, in gehoorsaamheid aan Sy gebooie te lewe, en werke van geregtigheid en aanbidding te verrig.

Vrymaking van die sleg
Die eerste aspek van vryheid, die vrymaking van sonde, is sentraal tot die Bybel. Die Here Jesus self het in Johannes 8:34-36 verklaar: “Elkeen wat die sonde doen, is ’n slaaf van die sonde… As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” Die mens, as gevolg van die val van Adam, is in ’n toestand van slawerny aan die sonde gebore (Romeine 5:12). Dit beteken dat ons, van nature, nie in staat is om God se wil te doen of ons eie redding te bewerk nie. Hierdie slawerny aan die sonde bring skuldigbevinding voor God en lei tot ewige verdoemenis as dit nie bely word nie.
Christus se verlossingswerk aan die kruis het egter vir ons die weg na ware vryheid geopen. In Sy kruisdood en opstanding het Hy nie net die mag van die sonde oor ons lewens gebreek nie, maar ons ook bevry van die straf wat ons toekom. Dit is die groot barmhartigheid van God, dat Hy ons sonde op Christus geplaas het, sodat ons vry kan wees van die vloek van die wet (Galasiërs 3:13). Hierdie vrymaking is nie bloot ’n regverdiging vir ons om in sonde voort te leef nie, maar ’n werklike bevryding wat ons toelaat om in die nuwe lewe van geregtigheid te wandel (Romeine 6:18).

Vrymaking vir die goeie
Die tweede aspek van vryheid is egter net so belangrik. Wanneer Christus ons vrymaak van sonde, bevry Hy ons tot ’n lewe van gehoorsaamheid en goeie werke. Die moderne idee van vryheid wat daarop fokus dat ons doen wat ons wil, is nie die Bybelse vryheid nie. Ware vryheid, soos dit in die Bybel verstaan word, is die vermoë om te lewe volgens die doel waarvoor ons geskep is—naamlik om God te verheerlik en Hom te eer.
Efesiërs 2:10 sê duidelik dat ons “geskape is in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Hierdie vryheid tot goeie werke is ’n direkte gevolg van ons verlossing. Ons goeie werke verdien nie ons verlossing nie, maar is die vrug van die verlossing wat Christus vir ons bewerk het.
Boonop word ons deur die Heilige Gees in staat gestel om in hierdie vryheid te wandel. Die Heilige Gees werk in ons om ons heilig te maak en ons te lei tot ’n lewe van geregtigheid. In hierdie sin is vryheid nie die afwesigheid van reëls of wette nie, maar die krag om in ware gehoorsaamheid aan God te lewe.

Kies ons vryheid?
In die lig van die Skrif, is ware vryheid nie bloot ’n negatiewe vryheid—vry van onderdrukking, sonde, en straf nie—maar ook ’n positiewe vryheid—vry om God te dien, om in gehoorsaamheid en goeie werke te lewe. Christus het ons nie net bevry van iets nie, maar ook tot iets: tot die doelgerigte, vreugdevolle lewe in Sy teenwoordigheid. In Orania beteken dit onder andere dat ons die vryheid moet hê om ons eie owerhede te verkies wat volgens die wil van God regeer. Hierdie vryheid is die hoogste vorm van lewe, en slegs deur die werk van Christus en die inwoning van die Heilige Gees kan ons dit ten volle ervaar.

TAGS:

1914-Rebellie word deur ’n nuwe lens bekyk by die Voortrekkermonument

“Mens moet jou geskiedenis verstaan, anders verstaan jy nie jou mense nie.” Só vertel prof. Jackie Grobler, een van ons land se mees gevierde historici toe hy op 29 Augustus by die Voortrekkermonument (VTM) kom kuier het om ’n lesing aan te bied oor die Rebellie van 1914.
Hierdie lesing is deur die Erfenisstigting (ES) aangebied, wat gereeld hierdie tipe projekte aanpak om broodnodige bewusmaking te kweek oor die belangrikheid van geskiedenis en erfenisbewaring.
Groot geeste uit die Afrikaanse kultuurwêreld, soos dr. Pierre Edwards, voormalige hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, die hoofleier van Die Voortrekkers, Karin Stofberg en Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging was onder die gehoor.
Lizette Jansen, bestuurder van die ES, sê sy hoop dat hierdie praatjie mense inspireer om hul eie geskiedenis te leer ken én daarop te begin bou.
“Vanjaar is dit die 110de herdenking van die 1914-Rebellie daarom het ons dit goedgedink om prof. Grobler te nooi om dié belangrike historiese gebeurtenis te herdenk,” sê Jansen.
“Dié Rebellie is redelik onderbeklemtoon in vergelyking met gebeurtenisse soos die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog en ek kan nie aan iemand meer kundig dink om ’n nuwe lig hierop te laat skyn as prof. Grobler nie.”
Grobler was jare lank ’n geskiedenislektor verbonde aan die Universiteit van Pretoria én het ook al gedien op die direksie van die VTM.
Tydens die lesing, getiteld Die Afrikaner-rebellie van 1914 in die konteks van protesbewegings van die Afrikanergemeenskap het prof. Grobler gefokus op verskeie eras uit die Afrikanergeskiedenis, naamlik 1795, na wie hy verwys as die Patriotte, die Voortrekkers van 1835 tot 1848, die Transvalers van 1880 tot 1881 én die Afrikaners van 1914.
“Of mens wil of nie, ons is almal nageslagte van mense, mense wat verskillende goed gedoen het en daarom móét ons kan terug kyk na die lewe van dié mense om meer te leer oor hulle, onsself en die wat na ons gaan kom,” sê Grobler.
Rebellie, opstand of betoging, het Grobler vertel, het ’n groot impak in die geskiedenis van die Afrikaner gehad.
“Waarop het die vier rebellies uitgeloop?” stel hy die vraag:
Voor die Groot Trek het die grensboere se “rebellie” gelei tot die verval van die sogenaamde Republieke van Swellendam en Graaff-Reinet, tóg, vertel hy, het die vryheidsdroom voortgeleef. “Dit het natuurlik gelei tot die Groot Trek en die stigting van die Boererepublieke.”
Later het die Afrikaneropstand gelei tot die Eerste Vryheidsoorlog en die herstel van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
“Die Rebellie van 1914 het misluk, maar was vir die regering ’n Pyrrhiese oorwinning wat gelei het tot ’n groter sosio-kulturele rewolusie – Die Vroueoptog van 1915, die stigting van die Helpmekaarbeweging – en het as ’n stimulus vir Afrikaanse letterkunde gedien.”
Die eeueoue uitdrukking lei “as jy nie weet waar jy vandaan kom nie, sal jy ook nie weet waarheen jy op pad is nie”, en hierdie lesing van prof. Jackie Grobler het net weer bewys hoe belangrik dit is om mens se geskiedenis te ken, te bewaar en te onderhou.
TAGS:

Die Solidariteit Beweging staan verenig teen die BELA-wetsontwerp: ’n Stryd vir onderwysvryheid en die toekoms van Afrikaans

Verskeie organisasies van die Solidariteit Beweging, waaronder die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), het vandag in ’n perskonferensie ’n verenigde front aangekondig om teen die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) te staan.
Die koalisie van sewe instellings het aangekondig hulle sal die regsroete volg om die wetsontwerp se nadelige uitwerking op die outonomie van skoolbeheerliggame en die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal in skole te weerstaan.
Die BELA-wetsontwerp, wat na verwagting Vrydag deur president Cyril Ramaphosa onderteken sal word, dreig om sleutelbesluitnemingsbevoegdhede wat verband hou met skooltoelatings en taalbeleide te sentraliseer. Hierdie verskuiwing, voer die koalisie aan, sal gemeenskapsgedrewe onderwys ondermyn en die regte van ouers, onderwysers en skoolbeheerliggame aftakel om te besluit wat die beste vir hul kinders is.
Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die FAK, het tydens die perskonferensie die koalisie se bekommernisse passievol verwoord: “Ons kinders is pionne in die regering se skaakspel en hulle gee nie om om die toekoms van ons land op te offer vir hul eie selfsugtige gewin nie. Een van die voorwaardes vir die Regering van Nasionale Eenheid was dat die BELA-wet, soos hy nou staan, nie onderteken sal word en in werking sal tree nie.”
Pretorius sê ‘Los my Afrikaans!’ is nie meer net ’n slagspreuk nie.
“Dit is ’n oproep om die nalatenskap en toekoms van Afrikaans in ons skole te beskerm. Die BELA-wet het ten doel om die magte van die beheerliggame weg te vat oor onder meer taalbeleide en dit te sentraliseer in die regering se kloue. Dit ontneem gemeenskappe van hul reg om te besluit wat die beste vir hul kinders is.”
Die regering is aggressief besig om rassewetgewing te druk.
“Daar is nou 142 rasgebaseerde wette wat in die struktuur van ons land se bestuur ingebed is. Hul volgende teiken is Afrikaans, aangesien hulle stelselmatig poog om dit uit skole uit te wis, net soos dit reeds van verskeie universiteite gestroop is,” sê Pretorius.
As Afrikaans nie meer die onderrigtaal in skole is nie, word ’n stadige uitwissing in die gesig gestaar. Is die regering se volgende doelwit om die derde mees gesproke taal in Suid-Afrika uit te roei? Afrikaans is een van die jongste tale ter wêreld, en in minder as ’n eeu het dit gegroei tot ’n ten volle ontwikkelde wetenskapstaal. Tog dreig die regering nou die 2226 openbare Afrikaanse skole in ons land. Ons kan nie bystaan en dit laat gebeur nie!
“Die handskoene is af. As president Ramaphosa die BELA-wetsontwerp onderteken, sal ons hom in die hof sien!” sê Pretorius.
Die koalisie beskou die BELA-wetsontwerp as ’n algehele aanval op die regte van ouers, gemeenskappe en skole om die beste opvoedkundige omgewing vir hul kinders te bepaal. Die wetsontwerp se bepalings, wat skoolbeheerliggame van hul gesag oor taalbeleide en toelating ontneem, kan lei tot die sistematiese erosie van Afrikaansmediumonderrig regoor die land.
Die boodskap van vandag se perskonferensie is duidelik: “Los My Afrikaans uit!”
Dit is meer as ’n stryd vir ’n taal — dit is ’n stryd vir die toekoms van gemeenskapsgedrewe onderwys in Suid-Afrika. Die FAK glo vas dat die BELA-wetsontwerp sal lei tot die geleidelike uitwissing van Afrikaans as onderrigtaal in skole, tensy daar onmiddellik opgetree word.
Die koalisie staan gereed om die regte van ouers, onderwysers en gemeenskappe in die hof te verdedig, en sal voortgaan om steun regoor die land te werf.
Vir verdere inligting, kontak vir Gerhard Pretorius, kommunikasiehoof van die FAK, by gerhard@kultuurtuiste.org

TAGS: