Dantél vat gedissiplineerde goud

Die persoonlike doelwitte wat Dantél Oosthuizen vir haarself tydens die voorbereidingsproses gestel het, was vir haar die grootste uitdaging.
Sy voel tevrede met haar finale week se voorbereiding waar sy ervaar het dat dit baie meer van ‘n sielkundige stryd was. “Jy kan vir ‘n week geen sout eet nie en jou waterinhoud word drasties gesny,” vertel die fikse dame. Sy glo dat haar liggaamlike voorbereiding vir dié kompetisie voldoende was. Daardie laaste slukkie water wat sy 19:00 die vorige aand mag geneem het, en dan eers weer nadat sy op die verhoog verskyn het, was moeilik.
Dantél vertel dat, alhoewel dit ‘n klein kompetisie was, het die vlak van professionaliteit nie geskort nie. Daar het ongeveer 20 mans en dames deelgeneem en sy het self aan die “strand bikini” en die “bikini fiksheid” afdelings deelgeneem. Sy het goue toekennings vir albei afdelings verwerf.
Dié wenner is oorgehaal om nog soortgelyke uitdagings aan te pak. Sy beskryf die ervaring waar sy op die verhoog moes verskyn en spesifieke posisies moes inneem vir die beoordelaars om die spierdefinisies goed te kan waarneem, as opwindend. “My kop was orals, want ek wou net daarop fokus om alles reg te doen,” sê sy.
Dit was vir haar ‘n eerste kompetisie en sy sien daarna uit om haar verhoogwerk te ontwikkel. “Ek sal ‘n afrigter moet kry wat met posering help,” verduidelik sy. Die regte manier van staan en draai en spiere vertoon is ‘n kuns op sy eie.
Die vriendelike en behulpsame personeel het volgens haar bygedra tot die lekkerte van die kompetisie. “Jy bly beslis jou eie grootste kompetisie. Alhoewel almal mekaar bekyk en jy elke individu se harde werk kan admireer, moet jou eie dissipline jou grootste uitdaging bly.”
Sy is oortuig dat elke individu werklik hard gewerk het om genomineer te word vir deelname aan die kompetisie. Daar is egter niks anders wat haar sou kon uitdaag om deel te neem, behalwe haar eie oortuiging nie. “Wat jy aanpak moet jy vir jouself doen. Dit maak nie saak of jy eerste of laaste kom nie, werk hard daarvoor. As alles in die lewe maklik was, dan het niemand dit gedoen nie,” eindig Danté met wysheid af.

TAGS:

Ritmiese gimnaste palm medaljes in

Michelle Jacobs, eienaar en afrigter van die Oranjerivier Gimnastiekklub, het 7 van haar gimnaste vir hul eerste buitekompetsie in Kimberley voorberei en spog met pragtige resultate.
Saterdag 25 Mei sal vir dié klublede altyd ‘n datum van oorwinning wees. Hul het, volgens wat Michelle vertel, veral hul vrees vir kompeterende deelname oorwin. “Ons almal se senuwees was gedaan en ek het skielik aan alles wat ek hul ooit geleer het, getwyfel,” erken Michelle.
Daar was 85 deelnemers wat hul gimnastiekkragte gemeet het. Elke gimnas het vir hul vrydans en apparaat ‘n punt verwerf en daar is ook ‘n algehele punt per gimnas toegeken. Die Oranjerivier gimnaste het onder andere met 6 eerste plekke geseëvier. Die een algehele hoogste puntetelling vir alle ouderdomme in Pretgim is met trots ontvang.
Buiten die gimnaste se goeie resultate is die afrigter en ouers trots op die positiewe gesindheid wat elke gimnas met hul deelname getoon het. Juffrou Michelle sê: “My hart wou bars!”

Ritmiese gimnaste… In nog ‘n kompetisie op 8 Junie het dié drie meisies goed gevaar. Carli Swanepoel het ‘n derde en agtste plek verwerf, Nina Murphy het 2 eerste plekke en ‘n trofee vir die hoogste punte in alle ouderdomme verwerf en Karli de Jager het 2 tweede plekke gekry.
Ritmiese gimnaste… In nog ‘n kompetisie op 8 Junie het dié drie meisies goed gevaar. Carli Swanepoel het ‘n derde en agtste plek verwerf, Nina Murphy het 2 eerste plekke en ‘n trofee vir die hoogste punte in alle ouderdomme verwerf en Karli de Jager het 2 tweede plekke gekry.
Trotse gimnaste… Van links staan Amoré Verster, Klara Murphy, Cecelia Wessels (3 eerste plekke ingepalm), Nina Murphy (3 eerste plekke), Melínke Murphy en Cielmari Verster. Voor sit afrigter, Michelle Jacobs.
Trotse gimnaste… Van links staan Amoré Verster, Klara Murphy, Cecelia Wessels (3 eerste plekke ingepalm), Nina Murphy (3 eerste plekke), Melínke Murphy en Cielmari Verster. Voor sit afrigter, Michelle Jacobs.
TAGS:

Winterspele laat sportharte warm klop

Die BCVO vier vanjaar sy dertigste bestaansjaar en die jaarlikse Winterspele 2024 word vanjaar in Lichtenburg aangebied. Die Orania CVO-skool is daar met hulle rugby en netbalspanne.
Die BCVO voorsitter van die Sportraad het die Opvoedingsraad van CVO-skool Lichtenburg bedank vir hulle harde werk en goeie voorbereiding vir die toernooi.
Marius Botha is die Sportraadvoorsitter van Noordwes en meld in sy programboodskap: “Foute is net soveel deel van sport as deel van die lewe. Die grootste uitdaging is om terug te kom en dit reg te maak. Jy word nie gedefinieer deur jou foute nie. Jy mag en moet jouself vergewe, jou kop oplig, daaruit leer en sterker terugkom. Dit sê baie van ‘n mens se karakter.”
Rugby en netbalspanne van die Noord-Kaap, Noordwes, Oos-Transvaal en Noord-Transvaal se CVO-skole se spanne neem tans aan die Winterspele deel. Koerania wens CVO-skool Orania sterkte toe met die spele!
Die volledige uitslae sal na afloop van die toernooi op Koerania se sosiale media platforms gedeel word.

Foto’s: Magdaleen Kleynhans

TAGS:

‘n Basaar voorspel altyd lekker eetgoed

Die Hervormde Kerk in Orania het op Saterdag 1 Junie hulle gewilde jaarlikse basaar in die tuin van die Orania Beweging gehou.
Daar is boerewors, maalvleis, sosaties, wildsbiltong, boereworsrolle, kerrie & rys, boepensbroodjies, pannekoek, melksnysels, basaarpoeding, koeke, terte, gebak en ander lekkergoed te koop aangebied. Inwoners kon soos van ouds aan ‘n kettieskietkompetisie deelneem. Soos altyd, het hierdie basaar aan al die verwagtinge van ‘n ordentlike kerkbasaar voldoen!
Christiaan en Hester van Zyl was deel van die sameroepers en vertel: “Ons het groot dankbaarheid vir die ondersteuning en gesellige saamkuier van Oraniërs by ons jaarlikse basaar!”

Wikipedia beskryf basaar as volg:
1. Verkoping van eetgoed en handwerk ten bate van liefdadigheid.
2. ‘n Oosterse mark.

TAGS:

Die Kaplyn trek diep lyne

Wanneer daar aan musiekblyspele gedink word dan maak jou gedagtes gou ‘n draai by Broadway se My fair lady, Mary Poppins, Seven brides for seven brothers en Fiddler on the Roof. Die belewenis van ‘n musiekblyspel is altyd vermaaklik, informatief en dra ‘n diep lewensles. Die Kaplyn is die mees onlangse musiekblyspel wat tot onlangs weer by die Afriforum Teater aangebied is. Koerania het by die tweede speelvak gaan inloer.
Jannes Erasmus het die roerende teks geskryf en betoon ook sy dank in die gedrukte program aan Francois Lessing wat die orkestrasie hanteer het. Johan Vorster, die kreatiewe direkteur van Inhoud Huis Musiek, wat ook die rol van generaal Ben Joubert vertolk het, het sy stempel van ondervinding duidelik afgedruk.
Liedjies soos Warm someraande, ‘n Ma se hart, Ek verlang na jou, Ontlaai, Verlore seun en My pa se huis is pragtig vertolk. Sestien akteurs wat hulle musikale- en danstalente op een verhoog ten toon stel bly ‘n lieflike ervaring, wanneer dit suksesvol uitgevoer word. In Die Kaplyn word die gehoor behoorlik saamgeneem op ‘n reis wat dalk toeka gebeur het, maar tog rou wonde gelaat het wat soms nooit genees nie.
In die gedrukte program word daar geskryf: “Die Kaplyn was ‘n rooi stuk grond tussen vyand en vriend. Die Kaplyn is ‘n fiktiewe verhaal teen die agtergrond van die Grensoorlog. Ons soldate het hulle plig nagekom en alles gedoem om te oorleef en te oorwin. Party het huis toe gekom – ander het nie. Ons wil hulde bring aan dié wat soveel opgeoffer het.”
Die storie is met effektiewe wipplank van emosies oorgedra. Die keuse van liedjies, oud en nuut, het die storielyn versterk. Die kleredrag het die gehoor soms lekker laat lag, want hulle kon daardie modes beslis onthou. Daar is met oortuiging ‘n boodskap van hoop oorgedra.
Zöricke Snyman het drie rolle vertolk en is met oorgawe aktrise. Abel Knobel gaan haal note ver en geniet duidelik sy verhoogwerk. Ilan van Staden se werklike liefde vir mense is onafwendbaar deel van sy toneelspel en lewe. Carmen Basson as Lyfie se pragtige stem is klokhelder. Révan Luüs, soos die ander lede van Die Kaplyn se span, gaan gehore nog lank kan vermaak. Jacomien de Wet het die rol van ma Salomé Joubert uitmuntend met sang en toneelspel vertolk.
Menige veteraan het met rooi gehuilde oë uit die teater gestap, maar dit was duidelik dat hul met ‘n tikkie trots hul skouers kon regop hou, want hulle was daar!
Jannes Erasmus, skrywer en regisseur, verduidelik: “’n Oorlog is ‘n oorlog, met of sonder wapens. My grootste wens vir jou is dat jy die moed sal vind om jou oorlog te oorwin, dat jy jouself nie aanhou diskwalifiseer op grond van jou verlede nie, want Hy ontmoet jou nes jy is, waar ook al jy is.”
Hou Afriforum Teater se sosiale media platforms dop, want van 2 Oktober tot 17 November bring die skrywers van Die Gelofte en Die Kaplyn vir gehore die splinternuwe musiekblyspel, Die Afrikaner maak so. Sien jou daar!

Die oop verhoog met ‘n duidelike rooi lyn daarop het reeds voorspel dat daar gedans, gesing, gehuil en gedink gaan word. Dit was ‘n diep onthou...
Die oop verhoog met ‘n duidelike rooi lyn daarop het reeds voorspel dat daar gedans, gesing, gehuil en gedink gaan word. Dit was ‘n diep onthou...
TAGS:

Een vreemde stem maak amok

Die Nasionale verkiesing het landwyd op 29 Mei plaasgevind. Alhoewel baie Oraniërs nie die nut daarin sien om ‘n kruisie vir verandering te trek nie, is dr Wynand Boshoff, parlementslid en leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, optimisties oor die vooruitsigte.
Hy vertel: “Die afgelope verkiesing se uitslag het ‘n unieke geleentheid geskep om ons ideaal te bevorder. Skielik het die VF Plus ‘n hefboom om erkenning vir wat Orania reeds bereik het te bewerkstellig, en die om die weg vir verdere vordering te baan.”
Dr Boshoff het reeds in 2011 by die politiek binne die VF Plus as takvoorsitter betrokke geraak. Hy het in 2015 as leier oorgeneem en beskryf die 2024 uitslae as ‘n hoogtepunt in sy loopbaan.
Oor die een EFF-stem wat die uitslae toon en wat die hele land aan die gons het, sê hy: “Oral is daar mense wat hou van grappies maak. Die EFF-stem in Orania het aandag getrek en mense laat lag, dit is al wat ‘n grapmaker wil hê. Of dalk is dit ‘n sterk protesstem? Waarteen sal mens nie weet as die persoon nie sê nie. Watter een van die twee ookal, ek dink mens glimlag, knip jou kop in erkenning en stap aan.”
Die Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging het verlede naweek aan die Comrades marathon gaan deelneem en selfs daar is hy deur meer as 20 mense op die roete gevra of Orania al kon uitvind wie die EFF-stem uitgebring het. Met die duidelik gemerkte drafdrag waarop Orania Atletiekklub se naam pronk was hy gedurig in die kollig daaroor.
Joost sê: “My antwoord het verskil. Vir baie het ek sommer gesê dit was ek, sodat hulle bietjie oor Orania in die koerant kan lees. Vir sommige het ek verduidelik dat Orania ‘n stempunt in die groter omgewing is. Daardie opmerking het gewoonlik tot ‘n meer formele debat gelei. Hy vertel ook dat daar baie MK teenwoordigheid langs die pad was, en selfs hulle het die Orania atletiekklub se klere erken en deelnemers toegejuig!

Redakteur van Koerania, Dia van Staden, kon dit nie weerstaan om ‘n foto by die EFF-plakkaat te neem nadat dit berug geraak het dat daar een EFF-stem uit die Orania kieslokaal gekom het nie.
Redakteur van Koerania, Dia van Staden, kon dit nie weerstaan om ‘n foto by die EFF-plakkaat te neem nadat dit berug geraak het dat daar een EFF-stem uit die Orania kieslokaal gekom het nie.
Die merkie wat gereeld met trots op sosiale media platforms gedeel word, maar moeilik is om te verwyder, word aangebring.
Die merkie wat gereeld met trots op sosiale media platforms gedeel word, maar moeilik is om te verwyder, word aangebring.
Amanda Saaiman en Antonette Snyman het die stemlokaal beman en het flinke diens gelewer by die Plaasopstal in Vluytjeskraal-Noord.
Amanda Saaiman en Antonette Snyman het die stemlokaal beman en het flinke diens gelewer by die Plaasopstal in Vluytjeskraal-Noord.
Joop en Tillie Swanepoel het hulle kruisies op ‘n koue stemdag in Orania gaan trek.
Joop en Tillie Swanepoel het hulle kruisies op ‘n koue stemdag in Orania gaan trek.
TAGS:

Die Dorslandtrekkersword 150 later steeds onthou

’n Eeu en ’n half nadat ongeveer 700 Afrikaners, in 1874, besluit het om die Republiek van Transvaal te verlaat, word hulle spore deur Afrika by die Voortrekkermonument (VTM) herdenk.
Die trekkers het kort ná mekaar besluit om die republiek te verlaat en ’n beter toekoms elders te gaan soek. Hulle het noordweswaarts getrek deur Botswana en Namibië en hulle uiteindelik in die suidweste van Angola gaan vestig.
Die afgelope naweek, 150 jaar na dié Trek plaasgevind het, het die Dorslandtrekvereniging RSA (DTV) dié manne en vroue se belangrike nalatenskap met ’n twee-dae-lange fees by die VTM, saam met direkte afstammelinge van dié trekkers, gevier.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê die lewens van dié manne en vroue vertel ’n inspirerende verhaal en laat mens opnuut besef hoeveel ons voorouers opgeoffer het om vir ons ’n beter toekoms te skep.
“Min mense ken die geskiedenis van Gert Alberts en sy trekgeselskap wat in 1874 noordwaarts deur Botswana tot in Angola getrek het,” vertel Langner.
“Dit is ’n inspirerende verhaal van toekomshoop, vorentoe beur, waagmoed, trane en lyding met ’n sug na vryheid as dryfkrag.”
Saam met die Groot Trek en die Brits-Oos-Afrika trek is die Dorslandtrek een van Afrikaners se drie groot vryheidstrekke, het Langner voorts verduidelik.

Gert Andries Jacobus Alberts, Kommandant en leier van die eerste Dorslandtrek
Gert Andries Jacobus Alberts, Kommandant en leier van die eerste Dorslandtrek
Prof Pieter Kok en genl Gert Opperman
Prof Pieter Kok en genl Gert Opperman
Dr Nicol Stassen en Prof Pieter Kok
Dr Nicol Stassen en Prof Pieter Kok
TAGS:

’n Skuif in die regte rigting vir Carolina se kulturele erfenis

In die hoofstraat van Carolina staan die standbeeld van veldkornet Adriaan Jacobus de Lange vandag weer trots sy plek vol, na dié beeld onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gerestoureer en verskuif is.
Die Carolina Burgermonument, wat sedert 1930 voor die NG Kerk staan, is in Junie 2021 gevandaliseer en na byna drie jaar is dié besonderse monument uiteindelik tot sy vorige glorie herstel en op 31 Mei, die herdenking van Republiekdag, weer amptelik deur die FAK onthul. Die monument staan nou op ’n ander deel van die kerk se gronde.
Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, sê hierdie projek is ’n bewys van die kan-kultuur wat in ons land heers en sê hy is dankbaar vir elke gemeenskapslid wat by die projek betrokke geraak het.
“Lizelle van Aswegen, ’n plaaslike sakevrou en eienaar van verskeie gastehuise, het op die kop van die beeld in die hoek van een van haar erwe afgekom en met die FAK kontak gemaak. Uiteindelik kon ons met die proses begin om hierdie waardevolle stuk geskiedenis te herstel,” sê Müller.
Die standbeeld het ’n ryk geskiedenis wat Ermelo en Carolina verbind en vertolk die verhaal van die Slag van Spioenkop, waartydens die Boere swaar verliese gely het.
De Lange was ’n Boerekryger wat van 1882-1883 as deel van die Mapoch-kommando oorlog gevoer het, asook tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) in 1899. Hy was op 24 Junie 1900 die held van die Slag van Spioenkop, waartydens hy kop- en armwonde opgedoen het.
Die NG Kerk Carolina se geskiedenis is net so sterk deurweef met die geskiedenis van die oorlog met die hoeksteen wat reeds in 1888 gelê is.
Tydens die onthullingsgeleentheid het prof. Fransjohan Pretorius ’n interessante lesing gegee oor die rol van die Carolina-kommando in die ABO, tog vertel hy staan die manne se ervaring vir hom meer uit as die historiese feite van die Slag van Spioenkop.
“Hierdie geleentheid en die geskiedenis wat dit voorafgegaan het, leer ons vandag om in ons geloof te verdiep. Die oorlog het die manne en vroue wat daaraan deelgeneem het, geleer om in geloof te verdiep en daarom is dit so belangrik om hierdie mense te eer en te onthou, want dit leer ons om vandag ook vas te klou aan ons geloof en die hoop vir ’n beter toekoms,” sê Pretorius.
Dr. Tiaan Schutte het gepraat oor die ongevalle van die Carolina-kommando tydens die ABO.
“Cornelis Potgieter (17) was die jongste gesneuwelde op kommando. 13 van die gesneuwelde burgers se name staan op die monument. Carolina kan trots wees op wat hul bydrae was vir die oorlog,” sê Schutte.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het vertel waarom dit belangrik is om in vandag se tye steeds die bydrae van dié wat voor ons gekom het, te onthou én getrou te onderhou.
“Vandag staan ons hier om ’n monument te onthul en ons erfenis te vier, tog dink ek is dit belangrik om te let hoeveel kinders en jongmense hier by ons is. Wat my betref, is hulle vandag die belangrike gaste, daarom wil ek hulle in die oë kyk en met hulle praat,” sê Langner.
“Ek was ’n paar weke gelede in die VSA waar jy oorweldig word deur museums en trots op hul museums. Dit het my weer laat dink aan die Bybelteks ‘my erfenis is vir my mooi’.”
Dié teks is vir Langner die rede waarom organisasies soos die FAK saam met gemeenskappe werk om hul erfenis te bewaar, tog vertel hy lê die betekenis daarvan veel dieper.
“My erfenis is vir my mooi. Vir my lê die sleutel hiér in die woord ‘my’. Die storie wat hierdie monument vertel, is my storie, dis óns storie. Dit is stories van vasbyt, aanhou en deurdruk, en vriende wat huil as hul vriende sneuwel. Die monument vertel ons ook van die liefde van God – Selfs in die moeilike tye in ons geskiedenis was die Here by Carolina-kommando en so ook is hy vandag by ons en dit is mooi. Vandag het julle as Carolina-gemeenskap saamgekom en met ’n duidelike ‘ja’ gesê: ‘Ons erfenis is vir ons mooi’.”

TAGS:

Keur van musiek by Stokkiesdraai

Die Stokkiesdraai Restaurant het ‘n pragtige klassieke musiekaand by die restaurant aangebied waartydens Jaco Mulder sy klassieke kitaar en Heinz Lüdtke die klawerbord bespeel het.
‘n Intieme gehoor het waarderend na Jaco se Spaanse interpretasies en Heinz se eie komposisies geluister. Jaco van der Walt en L’lize J van Rensburg het die gaste welkom laat voel en gaste het heerlike etes van die spyskaart af bestel.
Dit was ‘n ideale Vrydagaand se vermaak na ‘n week van woeker.

Jaco Mulder se flinke vingeraksies bring pragtige klanke op die klassieke kitaar na vore
Jaco Mulder se flinke vingeraksies bring pragtige klanke op die klassieke kitaar na vore
Heinz Ludtke skryf graag sy eie musiek en laat die klawers gedy
Heinz Ludtke skryf graag sy eie musiek en laat die klawers gedy
TAGS:

Volkskool vier 33 jaar!

Op Saterdag 8 Junie het Volkskool Orania se binnehof in ‘n partytjie ontaard toe daar fees gevier is vir hul verjaardag.
Die kinders kon deelneem aan ‘n verskeidenheid kompetisies en daar is koeke versier om te sien wie kreatief kan raak met eetbare versierings.
Daar word elke jaar uitgesien na die Potjiekoskompetisie wat met ‘n mooi gees aangepak word. Smullekker potjies is geproe en daarna te koop aangebied.
Ons sien saam met Volkskool Orania uit na die volgende mylpaal!

Phillip en Annamarie Buitendag het nie op hulle laat wag toe daar potjiekos gemaak moet word nie.
Phillip en Annamarie Buitendag het nie op hulle laat wag toe daar potjiekos gemaak moet word nie.
Judy en pa Schalk Albertyn is in rooi getooi vir die potjiekoskompetisie.
Judy en pa Schalk Albertyn is in rooi getooi vir die potjiekoskompetisie.
Anesta du Preez en Carel Boshoff is die A&C-span en gereed vir die uitdaging.
Anesta du Preez en Carel Boshoff is die A&C-span en gereed vir die uitdaging.
TAGS: