Bo-Karoo Opleiding (BKO) het van 8 tot 10 Augustus by KragDag 2024 onder die tema “Daar is ‘n alternatief” uitgestal. Hierdie geleentheid was ‘n belangrike stap om BKO se kenmerk te versterk en verdere bewusmaking te skep oor die opleiding en kursusse wat hul bied. Besoekers kon meer leer oor ons programme, insluitend Boerderybestuur, Bou en Siviele Konstruksie, Elektries, Loodgieter, Vroeë Kinderontwikkeling, Tuisversorging, Tuissorgassistent, en ‘n voorsmakie van die Nutsman-kursus wat in 2025 bekendgestel word.
BKO se teenwoordigheid by KragDag het hul toewyding aan professionele ontwikkeling en vaardigheidsopleiding verder onderstreep. Hul stalletjie het ‘n bestendige stroom besoekers gelok, wat grootliks bestaan het uit mense wat reeds vertroud is met die instelling en diegene wat graag meer oor hul kursusse wou uitvind.
“Dit was ‘n opwindende geleentheid om met potensiële studente en hul gesinne te gesels,” sê Paul Vogel, BKO se uitvoerende hoof. “Die belangstelling wat ons waargeneem het, wys dat mense na gehalte opleidingsopsies soek, en ons is trots om deel te wees van hierdie oplossing.”
BKO se deelname aan KragDag 2024 was suksesvol en het die konsep van ‘n “kampus sonder mure” verder gevestig.
Foto – Verskaf