Ek lees op sosiale media waar soveel mense hulp vra omdat ‘n vreemde gebeurtenis hulle laattwyfel, laat skrik of bangmaak. Die reaksies van Afrikaners, wat in ‘n sogenaamde Christelike land woon, is aanvallend, krities, harteloos, misplaas of bloot hartverskeurend. Ek lees dit en wonder wat God hiervan dink en hoe dit Hom laat voel…
Wanneer het dit gebeur dat mense hulself die reg begin toe-eien het om ‘n ander se vrees of pyn met soveel ontnugtering of swartgalligheid te bejeën? En dit dan op ‘n aanvallende of verkleinerende wyse uit te spreek?
Het die mensdom wragtig so versink geraak in satan se kloue en sy bloeddorstige steel van siele, dat die leuen en aanslae nie so duidelik soos daglig vir jou uitstaan nie?
Die Vader vra van my en jou om met onderskeiding te oordeel. Ja, ons MOET oordeel, anders is dit mos maklik om in die aanslae van die wêreld te verval? Ons moet kies. Donker of lig?
Die hele land gaan tans gebuk onder ‘n kouefront. Vou jou hande saam, gaan saggies op jou knieë (gebruik ‘n kussing as die kniege seerkry), maak toe jou oë en BID! Gebed en genade is wat ons nodig het, maar die belofte van gebed is nie genoeg nie. Ons moet tot aksie oorgaan. DOEN dit!
Hoeveel keer het jy al vir iemand gesê dat jy vir hom of haar gaan bid en dan doen jy dit nie? Ek is seker ek het dit al gedoen. Nie bewustelik nie, maar “die lewe gebeur” en dan dink ons daar is belangriker goed wat op die taaklys van die dag wag. “Ek sal later.”
Kom ons skop die winter af met die wil en drang om volhoubaar te bid. Om met opregte harte en met ons mosterdsaadgeloof tot die Vader te draai. Dit is waar ons hulp vandaan kom!
Hoe nader ons aan die Vader beweeg, hoe meer sal die aanvalle wees. Hy voorspel dit in sy woord. Skink jou koffie (of sop) met oorgawe, neem die Bybel op en soek ‘n sonkolletjie waar jy stil kan word en tot die Vader keer vir jou, jou bure, jou familie, jou dorp, jou land se opstaan en terugkeer na Hom wat ons liefhet!