
Meer as 200 lede van die gemeenskap het die jaarlikse speletjiesaand op Saterdag 1 November bygewoon. Dia van Staden, die Okkasie Hasie en redakteur van Koerania het die projek jare gelede in Polokwane, haar geboortedorp, ter wille van verskeie maatskaplike instellings begin aanbied. “Die behoefte vir lag ontstaan gereeld, maar word te min aangegryp,” vertel Dia. Sy het die projek ontwikkel toe haar ma met kanker gediagnoseer is en sy self die dringende behoefte gehad het om minder hartseer te wees. Vir die afgelope 4 jaar word dié projek met sukses in Orania aangebied. Karoosig Aftreeoord, Die Forum vir Gestremdes, Watervleuel en Orania Helpmekaar het in die 4 jaar onderskeidelik in die wins van die aand gedeel. Dia vertel dat dit ‘n uitdaging is om binne ‘n klein gemeenskap ‘n koste-effektiewe geleentheid aan te bied. Tussen skole en ander gemeenskapsinstelling word datums vinnig opgeslurp en maak dit soms net nie sin om ‘n geleentheid aan te bied nie, want die laer inkomstestrome en getal inwoners kan nie altyd bekostig om alles by te woon nie. Die twee pretspanne is vanjaar met kleur en geur deur Die Kontreiwinkel en Die Wafelhuis ondersteun. Elmarie Lambrechts, Brendon van Huysteen en Christiaan van Zyl het die seniorspan van Kontreiwinkel verteenwoordig. Die Wafelhuis se junior roomysspan was Cara Tomlinson, Shaun-Dee de Lange en Carl Boshoff. Ruaan van Wyk het as (on)omkoopbare regter hom puik van sy taak gekwyt! Die Sombomme, Jana en Nina Hugo, het allerhande hase uit hul hoede getrek om die gehoor te laat opdok vir enige swak deelname, ‘n oormaat entoesiasme of kwaliteit van hulle geesdrif. Die skerpsinnige Musiekfabriek het uit Christelle de Villiers, ds Ruan Combrink en Dolf Vogel bestaan. Daar is ‘n groot verskeidenheid note gekies waarmee hulle gewoeker het en die gehoor moes kopkrap en raai om by titels en sangers en era’s uit te kom. As aanbieder moet Dia kophou tussen die ywerige gehoor se uitskree van voorstelle vir die spanne se uitdagings en die spanne se wedywering met mekaar. Dit is die persoonlikhede, wat die tafels met hulle gaste opvul, wat ook ‘n spesiale woord van dank verdien. “Die persoonlikhede deel van hulle persoonlike voorkeure en afkeure en vertel van hulle stories sodat die spanne sekere speletjies kan speel,” noem Dia. Sy vertel met ‘n groot glimlag hoe dié lede van die gemeenskap inkoop, saamspeel en wonderlike entoesiasme bring om vir ‘n goeie doel hulle deel te doen. Vanjaar se persoonlikhede was: Ilze Smit (Wafelhuis), L’lize J van Rensburg (Afsaal Eiendomme / Stokkiesdraai Avontuurpark), Ita van Zyl (Op die Bult venue), Timothy Jacobs (MMI Kontrakteurs), Ludwig Everson (Aardskip / Sonskip), Willie Steenkamp (Arbeidadel), Janel Cornelius (Dansakademie), Nina van Coppenhagen (Rembrandt), Lardus Erasmus (Orania Gesondheidsdienste), Riaan Els (Mos se Plek), Pierre Buys (Gasman), Doret le Cornu (Bo-Karoo Opleiding), Riegardt Lambrechts (Kontreiwinkel), Nicolene Nieuwoudt (Wys jou vleis), Nadia Kuit (Orania Helpmekaar), Jacobus le Grange (Pluspunt Argitekte), Cornélle Steyn (Porseleinpoppe), Burger Lambrechts (Kontreiwinkel), Gerrit Crous (Monte Crous Hotel), Sanri Stone (Orakobab), Gerhard Strauss (BPP Kontrakteurs), Jannie Ebersöhn (Penkop Algemene Dienste). Orania Helpmekaar het met waardering die fondse ontvang. Daar word reeds beplan aan dié geleentheid vir 2026.