
D ie volhoubaarheid van enige groeiende gemeenskap berus op die kwaliteit van sy basiese dienste, met gesondheidsorg as een van die belangrikste pilare. Vir lank was die tekort aan plaaslike mediese geriewe ’n rede waarom inwoners Orania verlaat het, maar onder leiding van, onder andere Jannie Roux, Karin Bain en die span agter www.oraniagesondheid.co.za, is daar nou ’n doelgerigte verskuiwing na ’n selfstandige en omvattende gesondheidsplatform. Hierdie nuwe digitale tuiste dien as ’n sentrale navorsingspunt waar elke spesialis hul besonderhede verskaf het om ’n volledige databasis vir die gemeenskap te skep. Onder die nuwe toevoegings tot die Orania Mediese Sentrum, wat as ’n privaatmaatskappy funksioneer, is die tandarts dr. Jaco Meij, wat voorheen in Botswana en Pretoria gepraktiseer het. Hy word ondersteun deur Connie Marx as praktykbestuurder, terwyl dr. Lardus Erasmus beskikbaar is vir konsultasies (insluitend beserings aan diens) op spesifieke tye gedurende die week en Saterdae. Dr Lardus Erasmus vertel dat dié mediese diens ‘n belangrike trekpleister vir nuwe inwoners sal wees en dat hy en die span op kwaliteit diens sal fokus sodat dit bydra tot Orania se groei en vooruitgang. Die uitbreiding stop nie by algemene praktisyns nie. Hannekie Verwoerd bied dienste as spraakterapeut aan, terwyl Yoraldé Grotius as arbeidsterapeut by die span aansluit. Vir diegene wat bloedtoetse benodig, is suster Mariska Boshoff en Carien Strauss op vasgestelde tye gedurende die week beskikbaar. Hierdie verhoogde kapasiteit by die Mediese Sentrum het ’n positiewe impak op die plaaslike kliniek, aangesien dit die druk verlig deur pasiënte met mediese fondse of hospitaalplanne na private praktisyns te kanaliseer. Nooddienste het ook ’n groot hupstoot gekry deur die samewerking met ROCKETConnect. Susan Coetzer van Eureka Ambulansdienste tree op as mbassadeur in Orania om lug- en padambulansdienste te koördineer. Inwoner word aangemoedig om via die webblad by hierdie lewensbelangrike diens aan te sluit. ’n Opwindende nuwe inisiatief is die stigting van ’n gemeenskapsgesondheidsfonds wat op die konsep van ‘n stokvel gebaseer is. Onder die voorsitterskap van Jannie Roux en ondervoorsitter Willie du Plessis, is die lidmaatskap van dié hulpfonds gefinaliseer. Die mediese bydraes beloop ɸ300-00 per individu, ɸ420-00 per egpaar en ɸ560-00 per gesin. Die Helpmed Hulpfonds is ’n vrywillige gemeenskapsgesondheidsfonds wat deur Orania Gesondheidsorg MSW gestig is om Oraniërs in tye van mediese nood by te staan deur middel van mediese ondersteuning. Helpmed Hulpfonds is nie: · ’n mediese fonds nie · ’n versekeringsproduk nie · ’n vervanging vir mediese dekking nie Orania Gesondheidsorg MSW is ‘n maatskappy sonder winsbejag wat ten doel het om volhoubare, toeganklike en gehalte gesondheidsorg vir Oraniërs te verseker. Die Vriende van Orania kan inwoners, uitwoners of belangstellendes insluit wat wil bydra tot die uitbou van gesondheidsorg in Orania. Deelname aan hierdie stelsel, teen ’n bydrae van ɸ200 per persoon per maand via die Orania Spaar en Krediet (OSK rekening GO234), word gesien as ’n gedeelde verantwoordelikheid om Orania se toekoms te verseker. In Orania neem ons self die verantwoordelikheid vir die dinge wat vir ons mense saak maak – en gesondheid is een van die belangrikstes. “Daar is gereelde geleenthede wat vir 2026 in Orania beplan word waarvoor mediese dienste beskikbaar moet wees,” vertel Karin Bain aan Koerania. Ten spyte van hierdie vordering, bly daar behoeftes, veral aan geregistreerde sielkundiges en verpleegsters wat na-ure hulp kan verleen. Met inisiatiewe soos die skoleprogram en ’n beplande Vrouegesondheidsdag in Maart vanjaar, is dit duidelik dat Orania Gesondheidsorg verbind is tot ’n holistiese benadering vir die hele dorp. Die Orania kliniek kon tot dusver nie aan die groot behoefte van ‘n skoleprogram voldoen nie, aangesien daar net te veel pasiënte is wat hanteer moet word. Die Orania Gesondheidsorg het ‘n plan beraam om aan dié behoefte te voldoen deur suster Tilla Wiid en ‘n werknemer van gesondheidsorg in te span vir dié belangrike taak. Orania Gesondheidsorg lewer saam met die Departemente van Gesondheid, Basiese