
Die Kinderakademie-familie, met takke in Parow, Brackenfell en Orania, deel ‘n gemeenskaplike passie: om elke kind se unieke ontwikkeling te koester. Cheri de Vos van Kidz Academy Parow (sedert 1994) en Nicolene Bothma van Brackenfell (sedert 2004) vorm, saam met Ilze Smit in Orania, die kern van hierdie Christelik-gebaseerde voorskoolse instelling. Die akademie bedien kinders van baba tot Gr. R, asook ‘n nasorgsentrum.
Nicolene Bothma, wat al 19 jaar in die veld is, beskryf haar werk as ‘n ongelooflike ervaring. “Ek leer elke dag by die kinders,” sê sy. Die kern van hul missie is om die kind voor te berei vir sy toekoms, met ‘n sterk fokus op interpersoonlike verhoudings en die ontwikkeling van beide klein en groot motoriese vaardighede. Die mantra is “Leer deur speel” – ‘n metode wat verseker dat elke kind ‘n stewige fondasie vir die laerskool kry.
Een van die Kinderakademie se grootste sterkpunte is hul vermoë om die langtermyn impak van hul werk te meet. Die nasorgsentrum dien as ‘n barometer om te sien hoe hul voormalige kleuters by die laerskool vaar. Hulle streef daarna om slegs ‘n stukkie klei wat gevorm word oor te stuur wat gereed is vir die volgende fase, en beklemtoon: “‘n Gelukkige kind presteer beter!”
Die akademie is ‘n teenvoeter vir die departementele druk wat onderwysers en kinders se vryspel verminder. Hulle fokus op ‘n minimum skermtyd en moedig buitespel aan, met Vrydae wat spesifiek gereserveer is vir vryspel en pret. Hulle moedig ouerbetrokkenheid aan deur aktiwiteitsboeke wat familietyd rondom die week se tema stimuleer.
Hulle diens strek verder as net opvoeding. ‘n Deeglike spyskaart, wat vars groente, stysel, vleis en selfs ‘n nagereg op Woensdae insluit, verseker dat kinders se groeiende breine gesond gevoed word. Cheri beklemtoon dat ouers te veel op die skool staatmaak vir opvoedkundige take soos dissipline, maniere en respek, wat hulle probeer balanseer deur ouers weer betrokke te kry.
Ilze Smit, met byna 35 jaar ondervinding in voorskoolse onderwys, glo in die Orania-akademie se missie om ‘n skool te vestig waar elke kind teen sy eie tempo kan groei. Haar passie lê by die kind wat nie altyd in die hoofstroom vorder nie. Sy glo daar is altyd hoop en wil sukses behaal met ‘n kind wat nêrens anders inpas nie. Die kernboodskap is: “Ons breek nie af nie, ons bou op.” Die instansie is daartoe verbind om die saad van Christelike waardes en selfvertroue in elke unieke kind te plant.
Kontak Kinderakademie deur Ilze Smit by 082 856 8391 of Lily du Toit by 076 222 3369 te skakel.