Op die jeugdige ouderdom van 31 het hy soveel Amerikaners se lewens aangeraak en sonder om te skroom God as sy verlosser verkondig. Hoeveel leiers is bereid om dit te doen? Hoeveel jeugleiers vrees nie etiketering nie, en erken God openlik as hul saligmaker, staan vir familiewaardes en vir geregtigheid? So was Charlie Kirk.
Rotsvas, opreg, eerlik, respekvol en lojaal – dit is net ‘n paar van die eienskappe wat ek van dié dinamiese jongman kan uitlig. Hy is vermoor, maar sy stem kan voortleef in die honderde video’s wat hy vir sy land en mense se voortbestaan gemaak het. Hy was dalk ‘n Amerikaner, maar sy boodskappe is universeel en navolgenswaardig.
Die eie ek was nooit sigbaar in sy werk nie. Met dryf en deursettingsvermoê het hy gewoeker om ‘n boodskap van vrede, ywer en naasteliefde oor te dra.
Watter boodskap is daar in Charlie se lewe, en nou sy dood, vir ons? My wens is dat baie Charlie’s nou sal opstaan, hulle stemme laat hoor en die goeie stryd stry! Dit is nie veronderstel om uniek aan die VSA te wees nie. In ons dorpe, stede, provinsies en ons land het ons soortgelyke stemme nodig wat korrupsie, misdaad, ongeloof, haat en nyd beveg, maar daarmee saam die Goeie Boodskap bring!
Nie politiekery of groepe wat net vir hul eie missie veg nie, maar stemme wat oorkoepelend gehoor kan word, omdat God hulle bemagtig en hulle bereid verklaar om Sy koninkryk te laat juig.
..”jy moet jou naaste liefhê soos jouself…” sê God se woord. Dit is een van Sy moeilikste opdragte. Dit is duidelik aan die verkragtingsyfers, moordsyfers en hofsake wat in howe aangehoor word. Hoe het ons toegelaat dat twis meer aandag as vrede kry? Slegte nuus vorm baie meer gereeld deel van gesprekke as goeie nuus.
Is dit omdat die eie ek op die voorgrond wil wees? In ‘n “selfie” wêreld is dit nie verbasend nie. Ek verkies ‘n “onsie”! Kom ONS leef, glimlag, gesels en kommunikeer met ‘n bewustheid van ONS en ‘n fokus op die GOEIE nuus!
Klink ‘n koffie boeretroos met ‘n geliefde, vriende, familie of kollegas – maar keer die gesprek bewustelik na ‘n positiewe ingesteldheid.
#saamisONSsterker #charliekirk #sohelpONSGOD