2025 wil byna sy rug op ons draai. Daar is nog net meer as 40 slapies voordat 2026 met ‘n groot gejuig verwelkom sal word. Is jy gereed vir ‘n nuwe jaar? Vir ‘n nuwe begin? Vir oor begin?
Tyd is voorwaar ‘n faktor.
Met soveel drama wat tans die Afrikaner se lewe bedreig, sy voortbestaan bevraagteken en baie krom kritiek ontlok – kyk ek van ‘n afstand af, maar voel dit aan my lyf. My kop spin want dit is MY mense wat die boemerangkritiek rondsmyt. WDH?
“Dit is tekens van die tye,” sê baie. “Dit is wanneer broer teen broer sal opstaan…” Ek wil dit nie hoor nie, want ons is BETER as dit! Maar is ons?
Hoe is dit dat ons voete van klei so maklik in ‘n pappery omsit wanneer die begeerte om REG te wees so swaar weeg?
Ek wil die horlosie terugdraai na 1970, toe ek nog ‘n klein dogtertjie was. Ons kinders het nie van soveel haat en nyd en wandade en misdade geweet nie. Nou is dit ORAL! Jy kan dit net nie ontsnap nie, want sosiale media sal seker maak dat jy van alles weet.
“Hierdie jaar moet nou klaarkry. Volgende jaar kan NET ‘n beter jaar wees…” Ja? Jy dink so? En hoe gaan jy dit regkry om nie aan die einde van 2026 steeds te mor en te kla oor nog ‘n jaar wat aaklig was nie?
Hou ons aan die regte goed vas? Is dié lewe ‘n populariteitskompetisie? Bid ons reg? Ken ons die Skepper? Weet ons dat die Heilige Gees hier is om ons te begelei, wanneer ons hom innooi? Wanneer die kakofonie van konflik om ons Afrikanerkoppe losbrand is ons tog so gou gereed met ‘n kru woord en ‘n sterker brokkie persoonlike kritiek. Dan kry ek skaam, want enige persoon kan seker dink wat hy of sy wil, maar om jou brutale (en soms swak smaak en spelling) misnoë op so ‘n walglike manier uit te spreek laat geen ruimte vir komplimente nie.
Die einde wink voorwaar.
‘Tsek 2025! Ons wil baljaar. Ons wil lag! Ons wil hoopvol lewe!
Skink nou maar koffie en trek jou gesig reg! God is in beheer – DIT weet ons gister, vandag en more, voorwaar!