59 is potensieël vir Suid-Afrika verlore. Hulle het gekies. Hulle het hul opsies geweeg en Suid-Afrika met sy misdaad, korrupsie, mensehandel, grondgrype, Bela-onsin, plaasmoorde en verkragtingsyfers is te lig bevind. Hoe op aarde stry ons met die syfers op die tafel? Wie is ek om elke individu of paartjie of gesin se trauma of visie te oordeel? Ek en jy, wat Afrikaners in murg en been is, kan tog nie dink dat dit ‘n maklike besluit was nie? Desperaatheid dalk? Ek en jy weet ook van vrees. Ons onthou die nagte waar ons, vrou-alleen, met ‘n selfoon in die een hand en ‘n sambok of stok of rewolwer in die ander hand wag dat die onwelkome indringer by die deur of venster of dak moet inklim? Die Amerikaanse regering het die hand van hulp uitgereik. Volgens gerugte gaan nog baie daardie hand aanneem. Die kritiek teen die vlugtelinge is fel, maar die simpatie is net so baie, afhangende van watter kanale jy volg of mee gebombardeer word. In Orania is ons soms toeskouers van al die nare, onbeskryflike en onmenslike goed wat buite ons privaat eiendom se grense gebeur. Die vraag is: Wat kan ons doen om Afrikaners te help? Ons kan praat, ons kan bakens van hoop wees, ons kan mense uitnooi om ‘n ingeligte keuse te maak. Hoeveel van die 59 het Orania oorweeg en daarteen besluit? Het iemand ons dorp oorweeg? Moet ons in die spieël kyk vir redes hoekom hulle ons NIE gekies het nie? Praat met my? Wat dink jy kan ons as ‘n gemeenskap, waar sterk individuele stemme is, doen om die boodskap van Orania as ‘n opsie, by mense uit te kry? Nie net as ‘n politieke keuse nie, maar as ‘n kulturele keuse! As ‘n keuse wat geneem word op grond daarvan dat iets vir ‘n nageslag in jou eie taal en deur jou eie kultuur gebou en tot stand gebring word. “In die sweet van jou aangesig…” – Ons sal self? Help ons, Vader?