Ek is die afgelope paar weke verskeie kere gevra of ek weet hoe Kunsmatige Intelligensie (KI) werk. Ek is dan gou aangeraai om dit te toets en aan te wend, want dit sal vir my ‘n nuwe wêreld oopbreek! Ek gaap. Werklik? Persone dink dus dat, omdat ons in Orania woon, ons dit nie ken nie? Ek het niemand probeer reghelp nie. Ek het geduldig geluister en op die regte plekke my kop geknik. Ek stap dan weg en hou vas aan my EI – emosionele intelligensie. Met die oormaat KI is daar al hoe minder EI in die wêreld. Elke voornemende keuse word met ChatGPT of Gemini of Grok se agente getoets. Niemand gebruik meer hul gesonde verstand nie, want ‘n rekenaar, wat deur mense inligting gevoer word, gaan namens hul keuses maak. Huh? Hoe het ons hierby uitgekom? Ek lees van ‘n ma wat haar 12 jarige dogter afluister terwyl sy vir Siri geloofsvrae vra. Vrae wat ouers moet beantwoord. Vrae wat ‘n kind met vrymoedigheid met ‘n ouer behoort te kan bespreek. Toe die ma haar dogter daaroor uitvra antwoord sy: “Siri weet alles en sy kan dadelik en eerlik antwoord.” Verstaan my mooi! Ek besef ons bevind ons in ‘n tegnologiese wêreld wat al hoe meer digitaal gaan word. Ma en pa – hoe berei jy jou kind voor vir hierdie realiteit? Verskaf jy ‘n hoop data op julle wi-fi? Is daar vrye toegang tot enige platform? Word daar ‘n bietjie geredeneer oor die opsies en die moontlike uitkomste? As ouer het jy ‘n reuse verantwoordelikheid om oordeelkundig en minder “gehoorsaam” op te tree. JA, is nie die antwoord op elke versoek nie, en NEE kan met ‘n verduideliking gepaard gaan. Kritiese denke, selfstandigheid, goeie kommunikasie, kreatiewe vermoëns en spanwerk bly kernvereistes van die opkomende geslag in die samelewing en die werkplek. Wat doen jy om jou kind toe te rus? As jy onseker is, vra vir KI om jou EI te versterk! PRAAT met julle kinders en help hulle om unieke individue te word, sodat geen KI hulle sal voorskryf nie, maar eerder waarde by hulle bestaande vermoë sal voeg. Dit is 2026! Skink die koffie en trek nog ‘n stoel vir jou kind nader, sodat gesels en vertroue aanhoudend lewendig gehou kan word! Die toekoms vra nie slimmer masjiene nie, maar wyser mense! Niemand kan jou as ouer vervang nie, behalwe as jy dit toelaat… STERKTE!