Oppak is nie maklik nie. Om van jou persoonlike goed (of erfgoed) ontslae te raak is ‘n traumatiese ervaring.Jy kan hoeveel keer vir jouself sê: “Dit is aardse goed!” Dit maak nie die trane, hartseer, gevoel van verlies of afskeid, minder nie.
Dit is vervlaks seer om sentimenteel te wees! So het ek die afgelope maande begin sorteer. My goed. Ma se goed. Ouma se goed. Tannie se goed. Pa se goed. Lizette se goed. Familiegoed.
Om te minimaliseer verg durf! Dit is makliker om te sê, want die uitvoering daarvan blyk ‘n perd van ‘n ander kleur te wees. Ek het met die voor die hand liggende goed begin wat deur ‘n volgende persoon gebruik sou kon word. Skryfbehoeftes! Moet nooit iemand glo wat sê dat dit maklik is om skryfbehoeftes te sorteer nie. As jy elke pen wil toets of hy nog skryf en daar is byna 200, dan is dit nie ‘n “vinnige” taak nie.
Daar gaan ure se dink in terwyl die proses homself afspeel. Elke pen, elke skryfsel, elke boekie en elke houer het ‘n unieke storie. Jy word nie die wipplank van emosies gespaar gedurende die proses nie.
Foto’s en geskrewe memoirs is die ergste!
Diep gewortelde emosies word omgekrap terwyl daar onafwendbaar in die verlede se onthou gedelf word. Dit is ‘n seer, en soms ‘n mooi en lekker, wat elke individu sekerlik uniek ervaar. Maar ai, wanneer jy ‘n pak fo to’s van ouds in die hand neem en dit na nuwe hopies begin sorteer, val die jare weg en verplaas ‘n foto jou terug na daardie oomblik, daardie dag, daardie jaar en daardie era. Dit is ‘n sommerso werk nie!
Meubels en elektriese toestelle word byna vir laaste gelos, want jy moet iewers sit en daar moet nog kos gemaak word.
Terwyl die bokse en sakke met klere en goeters in se hopies hoër word verkyk ek my aan dit wat ek oor jare versamel het. Goeters kan jou vashou en terughou! Ek wil vry wees van goed.
My nuwe jaar se voorneme: “Ek wil kan beweeg sonder verwyt en sonder spyt.”
Skink nog koffie, want die winter begin sy kop uitsteek en daardie boeretroos moet nou sy werk doen!