Koerania Gemeenskapskoerant

Screenshot 2026-01-19 084848
January, 2026

ORANIA – Die Kleingelukgemeenskap was Maandag, 12 Januarie, getuies van ’n vernietigende brand wat die historiese Kuierstoep-gebou geweldig beskadig het. Hoewel die skade aan voorraad en die struktuur aansienlik is, word die voorval gekenmerk deur ’n suksesverhaal van paraatheid en gemeenskapsin. ’n Wedloop teen tyd Die krisis het net voor 19:20 begin ontvou toe vlamme by Stywe Lyne opgemerk is. Henry Meintjies was eerste op die toneel nadat ’n personeellid hom dringend geskakel het. Volgens amptelike rekords het die Orania Veiligheidsdienste (OVD) die noodoproep om 19:19 ontvang. Die reaksie was blitsvinnig en teen 19:31, skaars 12 minute later, was die spanne reeds op die toneel en besig om die vlamme te bestry. Ettiene de Lange, hoof van die OVD, moes by sy aankoms ’n digte rookwolk trotseer wat sig binne die gebou feitlik onmoontlik gemaak het. Terwyl die span onmiddellik begin het met die ontruiming van persone, is die OVDbrandweerwa ingespan om die brand te takel. Strategiese belegging werp vrugte af Theuns Wessels, weerbaarheidsbestuurder by die OVD, skryf die sukses toe aan ’n berekende besluit wat in 2025 geneem is. “’n Volledige veiligheidswaardering het brande as ’n groot risiko geïdentifiseer. OVD het besluit om op daardie waardering te reageer en ’n brandweerwa en die nodige toerusting, met bydraes uit die gemeenskap, aan te koop,” sê Wessels. Hierdie besluit, wat hy as een van “geloof en aksie” beskryf, was die deurslaggewende faktor. Die hoë waterdruk en gespesialiseerde snytoerusting op die wa het die span toegelaat om die dak met hoeksnyers oop te sny en die vuur, wat in die dak versprei het, te blus. Omvang van die skade Die gebou, wat in die 1960’s deur die Departement van Waterwese opgerig is, het weens die gebrek aan brandmure tussen eenhede groot skade gely: Stywe Lyne: Die brand het vermoedelik hier ontstaan. Toerusting soos ’n mikrogolfoond, broodrooster en menger is vernietig, terwyl die hitte die rekke van yskaste laat smelt het. Knapsak’i en Die Hoekie: Fanus Becker, eienaar en ’n bekende pionier in die dorp, meld dat rook- en waterskade omvattend is. Dele van die plafon in Knapsak’i het ingeval, wat voorraad- en rakskade veroorsaak het. Becker merk op dat die verlies aan besigheidsure tans die grootste skade is, maar dat hy weens die formele ondersoek moet wag voordat hul kan heropen. Infrastruktuur: Niel de Klerk van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) waarsku dat die elektriese bedrading weens die uiterste hitte waarskynlik in sy geheel vervang sal moet word. Die houtvloere het ook gate ingeval weens die massa water wat aangewend is om die geboue te red. Menslike impak en bystand Tina Meintjies, eienaar van Stywe Lyne, het haar teleurstelling uitgespreek oor ongegronde aannames deur sommige omstanders tydens die brand. Sy beklemtoon egter dat sy fokus op die feite en die oorweldigende ondersteuning van die breër gemeenskap. “Dit gaan nie net oor ’n winkel wat geldmaak nie; want ons lewe r ’n diens aan die dorp,” sê Meintjies. Sy het reeds begin om aanlyn bestellings te neem om kontinuïteit van hul diens te verseker. Die emosionele en fisiese welstand van die betrokkenes is hanteer deur Susan Coetzer van Eureka Ambulansdienste, wie se professionele optrede as “knap” beskryf is. Teen 22:20 was die situasie onder beheer, met personeel van Hoeksteen wat deurnag gewaak het teen moontlike opvlammings. Toekomsblik Gousblom, die eienaar van die gebou en filiaal van Helpende Hand, sal na afloop van die formele ondersoek op 16 Januarie en die daaropvolgende verslag van assessors, besluit oor die herstel, heropbou of vervanging van die perseel. Hoewel die brand ’n harde les was oor die belangrikheid van brandblussers en versekeringsgereedheid, staan die gees van Orania se sake-eienaars onwrikbaar. Die gekoördineerde optrede van die OVD en vrywilligers het verseker dat daar vandag nog ’n infrastruktuur is om te herstel.