No data was found

Koerania Gemeenskapskoerant

Deel van iets nuuts

Die vraag: Wanneer laas het jy iets nuut gedoen? Iets wat jy nog nooit voorheen gedoen het nie. Iets wat jou verryk. Iets buite jou gemaksone. Iets wat jou denke of dade vernuwe, is ‘n gunsteling van my.

As ek om my kyk is daar baie mense wat nie ja op dié vraag kan antwoord nie. Wanneer het ons as mense so gemaklik (of liewer ongemaklik) geraak? Wanneer het ons so tevrede geraak met wat ons doen, dink of beleef? Die ongemaklike gemaksone wat geen grense toets nie kan tog nie verandering bring nie.

Dit bring nie verandering vir my leefstyl, denkwêreld of metodes wat ek aanwend om my lewe vol te maak nie. Daar is aksie nodig voordat verandering kan geskied. Daar moet ‘n beweeg van A na B wees om te vernuwe, te groei of te verander.

Ek hou Koerania se sosiale media platforms dop om te beleef hoe mense nie lus het om nuut te dink, of selfs vir hulself te dink nie. Ons het so gemaklik geraak met die ongemak daarvan dat ander namens ons dink of besluit.

Legio opinies is oor die daarstel van die Paul Kruger standbeeld in Orania geuiter. ‘n Replika van ‘n stuk erfenis het nog nooit soveel mense laat gons nie. Die oorgrote meerderheid is positief en herleef ‘n stukkie geskiedenis en gebruik die geleentheid om die feite met hulle kinders, die jonger geslag of ander kulture te deel.

Tog voel dit of die geskiedenis homself herhaal… Die gemaksone het negatief, minder wees, kleiner maak, afbreek en selfs oorlog geword. Ek weier egter om my denke na so ‘n laagtepunt te laat spin!

Ek wil deel wees van ‘n omgewing waar daar opgebou word, gebou word en ‘n positiewe uitkoms die doel is. Wag jy vir iemand anders om die opbou en positiewe uitkoms te bewerkstellig? Of is jy daar in jou vriendekring, straat, buurt, dorp of stad die een wat innovasie voorhou? Wat jubel oor ‘n nuwe idee? Wat feesvier oor ‘n goeie daad?

Indien jy nie is nie, maak tog plek vir iemand wat is! Oktobermaand is die mooiste maand. Skryf in vir die Ons Paradys Tuinuitdaging? Gaan maak ‘n verskil by die tehuis vir bejaardes? DOEN net iets! Praat minder en doen meer!

Skink vir iemand ‘n koffie wat dit nie verwag nie. Doen iets nuut vir jouself en jou gemeenskap! #Herlaai