Dia van Staden – Redakteur
Haar vooruitsig was om in Orania haar liefde vir kunstige handwerk te kom uitleef. Daardie kunsitems is egter meestal nog in kratte weggepak, want enige persoon wat vir Yolandi Handford ken sal weet dat soetigheid en ganache sinoniem is met dié bo-baas bakster.
Yolandi beweeg gemaklik en rustig in haar verrassende klein kombuis rond terwyl sy eers koffie aanbied voordat die groot gesels begin. Haar man, André, is by ‘n groot tafel in die oopplan vertrek doenig met sy eie interessante besigheid se weegaksies, waarvan Koerania op ‘n latere stadium meer sal vertel. Jessica, hul 9 jarige dogtertjie is by die skool, maar die skool sluit ook vir die vakansie vandag.
Dié hegte gesin van drie bewoon en bewerk behoorlik. Daar is katte, honde, skape, hoenders en perde op hulle erf. Dit is enige kind se droom om so tussen diere, skoon lug, die vryheid van veiligheid en liefdevolle ouers groot te word.
Yolandi was ‘n debiteure en krediteureklerk by ‘n voertuigmaatskappy in die Brakpanomgewing toe André haar na Orania gerokkel het. Haar kleintyd droom was eerder om in die kosbedryf te werk, maar die hoeveelheid koeksisters wat sy nou in ‘n maand bak was nooit op die kaarte nie.
“My ma het nog altyd gebak en kos gemaak. As die oudste kind van vier het van laerskool af belanggestel in bak en brou en my ma graag in die kombuis gehelp,” vertel sy. Koeksisters, boontjiesop en tamatiebredie was haar ma se gunstelinge. Sy noem dat haar ma graag koekies en beskuit bak. “Ek bak beskuit net vir my huis. Dit is nie koste-effektief om beskuit met gas te bak nie.”
Terwyl Yolandi die vlegsels deeg versigtig in die olie pak, ‘n dosyn per baksel, vra ek haar uit oor wat sy as ‘n gunsteling driegang maal in die winter sou voorsit:
Voorgereg: Hoendersop met ‘n broodjie
Hoofgereg: Beessstertbredie met stampmielies en soetpatats
Nagereg: Malvapoeding met vla
Yolandi is dankbaar vir haar kliëntebasis wat groter maat bestellings op ‘n gereelde basis plaas. “Dit is voordelig as iemand op grootmaat bestel, want dit help met die beperkte arbeid wat ek as eenvrousaak kan verskaf. Jy leer kliênte se behoeftes vinnig ken,” deel sy. Sy hou daarvan as ‘n kliënt met haar eerlik is wanneer hul nie gelukkig is met ‘n produk nie. Dit is al hoe sy haar kwaliteit kan verbeter.
“Koeksisters en ander gebak neem nie werklik die kreatiewe spasie op wat hand- en kunswerk doen nie, maar dit help darem so bietjie,” vertel Yolandi terwyl sy die goudbruin diepgebraaide koeksisters in die stroop onderdompel.
Sy kan nie advokadopeer eet nie, want die tekstuur herinner haar aan ‘n babadoek. Daar is egter ‘n paar gunstelinge wat sy met my gedeel het. Yolandi verkies gebak bo ‘n driegang ete, sy sal soet bo sout kies, gebakte koek wen voor ‘n yskastert en koffie daarmee saam, eerder as warm sjokolade. Sy geniet ‘n lekker skaaptjoppie, want vis is nie haar eerste keuse nie.
Wanneer dit by haar gesin se kosvoorkeure kom vertel sy dat Jessical vis en rou groente verkies. Haar man is makliker, want hy eet graag wat sy ookal voorsit. Sy weet dat sy haar manlief met spaghetti bolognese en kerriehoender kan omkoop.
Yolandi bewerk gewoonlik 25kg meel se deeg per keer. Sy bak gewoonlik van ongeveer 17:00 tot 22:00, maar soms tot 02:00 in die oggendure, afhangende van hoeveel bestellings sy het en hoeveel deeg aangemaak is. Daardie tyd op haar voete lewer gewoonlik 50 dosyn koeksisters op.
Die enigste item wat haar lewe as ‘n bakster makliker behoort te maak is ‘n industriële menger, maar sy besef dat die persoonlike aandag aan daardie deeg wat ‘n perfekte tekstuur moet hê, ook belangrik is.
Dié bakster het in 2019 met so 10 dosyn koeksisters per maand begin, en berei nou byna elke maand 500 dosyn koeksisters voor! In die ander ure van elke dag wag daar huiswerk, werfwerk, skoolwerk en algemene take. “Ek sou graag wou brei of verf of decoupage doen. Bak vul ‘n klein stukkie van my kreatiewe behoeftes,” sê sy met ‘n opregte verlange om saam met vriendinne met kunswerk skeppend te raak.
Tot dit gebeur reis haar sjokolade ganashe koeke per koerier selfs na Bloemfontein en Durban en smul inwoners en besoekers heerlik aan haar soet bederfies.