Koerania

Die Federasie van Afrikaanse Kultuur-vereniginge (FAK) kyk terug op ’n jaar van baie hoogtepunte wat ons met die jeug van ons land kon deel.
Só besin die FAK oor die impakvolle inisiatiewe wat ons vanjaar aangepak het wat daarop gemik is om kreatiwiteit te koester, erfenis te bewaar en die jeug van Suid-Afrika te bemagtig.
Die FAK bly toegewyd om geleenthede te skep wat kinders en jong volwassenes inspireer om sinvol by die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse geskiedenis betrokke te raak.
Internasionale Afrikaans-Ekspo
Vanjaar se Internasionale Afrikaans-Ekspo het die verbeelding van kinders en jong volwassenes, wat ’n passie vir Afrikaans het, wêreldwyd gevier. Met die tema “TOEKOMS” het deelnemers van graad R tot 25 jaar oud hul drome en visies verken deur kuns, fotografie en kreatiewe skryfwerk. Die Ekspo het die volgende generasie aangemoedig om vernuwend te droom en ’n liefde vir hul taal te ontwikkel.
Beskerming van ondewysregte: Die Bela wetsontwerp-petisie
Die FAK het in 2024 ferm standpunt ingeneem teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA). Deur ’n amptelike petisie te loods, het die FAK ouers, onderwysers en studente verenig in ’n beweging om moedertaalonderrig en die outonomie van skole te beskerm. Hierdie poging het die reg op gehalte-onderrig in Afrikaans beklemtoon, wat die kulturele en linguistiese erfenis van toekomstige geslagte beskerm.
Slypskole kweek kreatiwiteit
Die FAK het in 2024 vier dinamiese slypskole aangebied, elkeen aangepas om kreatiwiteit en passie by die deelnemers aan te wakker:
• Boeremusiekslypskool: Vereer tradi-sionele musiek en instrumente.
• Kunsslypskool: Aanmoediging van jong kunstenaars om hulself uit te druk.
• Gedigtetoonset-slypskool: Blaas lewe in poësie deur uitvoering.
• Skoolkoerantslypskool: Bemagtig jong en opkomende joernaliste om hul stories te deel.
Hierdie slypskole het praktiese vaar-dighede en ’n platform verskaf om verskeie vorme van kuns te verken.
FAK se geskiedenisolimpiade: Onthou die verlede om die toekoms te vorm
Die FAK se Geskiedenisolimpiade, nou in sy vyfde jaar, het inskrywings ontvang van leerders van graad 4 tot 12. Die 2024-olimpiade het die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) en die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) as temas verken, wat aan deelnemers ’n kans gebied het om hul begrip van Suid-Afrika se geskiedenis te verdiep. Hierdie aanlyn inisiatief het kinders aangemoedig om krities met ons geskiedenis om te gaan, wat beide hul kennis en waardering van die verlede versterk het.
Die FAK bevestig weer sy toewyding aan die ontwikkeling van jongmense. Deur taal, kultuur en onderwys te bevorder, verseker die FAK dat elke kind die gereedskap het om groot te droom en sukses te behaal in ’n toekoms wat deur hul eie hande gevorm is.
Vir meer inligting oor die FAK se projekte en inisiatiewe, besoek
www.fak.org.za

Post Views: 30