Koerania

Vanaf Donderdag 28 Desember tot die Saterdag het harde stormreën Orania en ander dele van die Noord-Kaap getref.

Volgens Oraniërs wat meer as vyftien jaar in die dorp woon was dit ‘n frats van die natuur wat hul nog nooit beleef het nie. Meer as 170mm is oor ‘n tydperk van drie dae gemeet. Baie huise het deurgeloop toe modderwater deur hul huise gestroom het of soos ‘n dam om, en selfs binne sommige huise opgedam het.

André en Yolandi Hanford woon op ‘n hoewe wat aan die Rooi pad grens en het vier skape aan skok, koue en verdrinking afgestaan aangesien hulle penshoogte in die water gestaan het. Hy moes sy perde en ander skape na hoër gebiede skuif om hul veiligheid te verseker. ‘n Drukpomp, 20 lusernbale en ses hoenders met twaalf kuikens het ook in die slag gebly.

Die eienaars van Aan-die-Oewer, waar baie selfsorg houthuise gebou is en wat as ‘n gesogte oornagakkommodasie vir besoekers aan Orania dien, André en Karin Coetzee, vertel dat die insinking van ‘n groot deel van hul grasperk teen die Oranjerivier uiters traumaties was. “Om meer as dertig jaar aan iets te bou en dan te sien hoe dit net verdwyn, breek mens se hart,” vertel André.

Op 16 Desember het honderde inwoners en besoekers op daardie einste grasperk gesit om die jaarlikse Geloftefees te herdenk.

Vroeg op Saterdag 30 Desember is ‘n noodberoep op die gemeenskap gedoen om die Coetzee-gesin te hulp te snel om voorkomingsmaatreëls in plek te sit vir nog reën wat verwag is. Meer as 100 mans, vroue en kinders het met grawe opgedaag om met allerlei take behulpsaam te wees. Sandsakke is gevul en gepak, waterpype is aangewend om water te onttrek op plekke waar damme water gevorm het en oral was noodsaaklike handearbeid verrig.

Klimatoloog en professor in Omgewingswetenskappe by die eenheid vir Omgewingswetenskappe- en Bestuur aan die Noordwes Universiteit, Roelof Burger, vertel dat die wêreld die afgelope ses maande in ‘n El Niño-fase is. Dié verskynsel veroorsaak tipies in die binneland ‘n droë somer. Alhoewel droër toestande vir die seisoen verwag word, kan koppeling tussen tropiese en sub-tropiese weer steeds verwag word. Volgens hom is hierdie sinoptiese patroon ideaal vir wydverspreide reën oor die binneland. Hy noem dat daar nie klinkklare bewyse daarvoor is nie, maar dat vele navorsers al die verband tussen ekstreme weer oor Suid-Afrika, soos hael en flitsvloede, met El Niño verbind het.

André van Heerden, hoof van ingenieursdienste by die Orania Dorpsraad verduidelik dat stormwaterkanale nie die hoë watervloei kon hanteer nie en in erwe oorgespoel het. In Kleingeluk is ‘n paar huise deur vloedwater geaffekteer.

Hy vertel dat huise in Orania se vloere oor die algemeen nie hoog genoeg gebou word nie, aangesien daar die aanname is dat dit nie in die Karoo baie reën nie. André rig spontaan ‘n versoek dat inwoners en bouers bewustelik na die dreineringsopsies om hul huise moet oplet. “Kanale moet oop gehou word, interne dreinering moet vry van bourommel of tuinvullis gehou word. By nadere ondersoek is daar gevind dat baie afvoerkanale verstop was en dit het bygedra tot die probleem. Deur hierdie voorsorgmaatreëls te tref mag dit toekomstige oorstroming voorkom sodat huise beskerm kan bly,” noem André.

André verduidelik verder dat ‘n wolkbreuk ‘n uitsonderlike voorval is waarvoor ‘n ingenieur nie planne kan ontwerp nie, omdat dit ekonomies nie sin maak nie. Aangesien so iets nie algemeen voorkom nie, moet dit so goed as moontlik hanteer word wanneer dit gebeur het. Die feit dat dit baie droog was voor die vloed en grasbedekking min was, terwyl landerye in Vluytjeskraal-Noord en 272 met jong mielies op die lande gestaan het, het die vloei van die watermassa vergemaklik. “Alles het saamgewerk tot ‘n perfekte storm.”

Al die water het ‘n pad gevind na die hoof dreineringsaar en stormwaterkanaal langs die Rooi pad wat Orania-Oos se water opneem. Orania-Wes se water kom onderdeur die teerpad, maar water was so baie dat dit bo-oor die R369 gevloei het. Die uiteindelike versamelpunt was die stormwaterbufferdam by die sonplaas. Die hoeveelheid was egter te veel vir die bufferdam, aangesien die helfte verby gevloei het na VKN se informele kampterrein toe. ‘n Natuurlike laagtepunt langs die Rooi pad het die opdam wat ‘n groot hoeveelheid water veroorsaak wat nêrens heen kon vloei nie. Die tweede en derde buie reën het blykbaar baie skade aan walle veroorsaak, aangesien die grond oral versadig was.

Isobel Horak se privaat houthuis by Aan-die-Oewer het oorstroom en haar meubels het vir byna twee dae dertig sentimeter diep onder water gestaan. Isobel se eggenoot, Wessell, werk in Angola en sy vertel dat sy vreesbevange was en baie alleen gevoel het toe dit gebeur. “Dit voel of die water binne 5 minute oral was,” vertel sy. Daar is verskeie individue wat haar te hulp gesnel het, waarvoor sy baie dankbaar is.

Willie Nel en sy skoonsuster, Yolandi Nel, mede-eienaars van Wilco Agri, sê dat hulle as boere baie afhanklik is van weervoorspellings, daarom het hul na die ongeveer 7mm reën, wat voorspel was vir 28 Desember, as welkome verligting uitgesien . “Ons was nie gerat vir die stortvloed nie,” sê Yolandi.

Willie noem dat die tussen 80mm en 100mm, wat binne ‘n uur geval het, nie deur die landerye op Vluytjeskaal-Noord (VKN) geabsorbeer kon word nie. “Ons aanvanklike skadeskatting was te hoog. Alhoewel ons heelwat spoelskade op landerye ondervind het, die water die wêreld vol geloop het en lande soos damme gelyk het, het die jong mielies reeds baie mooi begin herstel,” vertel Willie op ‘n positiewe noot.

Afgesien wat versuipskade op een land geelmielies wat nie kon dreineer nie en hael wat die springmielies getref het, sê hy dat die afgelope paar dae se sonkyn gehelp het om jong mielies te laat opstaan en lyk die algehele opsomming na ‘n paar honderd duisend rand se skade. “Die taksering vir haelskade is gedoen, maar daar is nie noodwendig dekking vir spoelskade nie,” noem hy. Hulle volg tans aanbevelings waar hul die kunsmisprogram aanpas en maak die grond los wat as gevolg van die baie water toegeslaan het, sodat suurstof en water weer kan penetreer. “Die landboubedryf het dus seisoenale skade opgedoen, maar nou fokus ons daarop om dreinering vir die gewasse te herstel,” sê hy hoopvol.

André van Heerden vertel van die uitvoerbare korttermynplanne wat tans deur die Orania Dorpsraad gemaak word, maar beklemtoon dat ‘n vloedwatermeesterbeplanning dringend aangespreek sal word.

Koerania sal die proses volg en ons lesers op hoogte van die vordering hou.

Vloedskade by André en Yolandi Hanford se hoewe, asook hul bure, is duidelik sigbaar.

Isabel-Horak-se-houthuis-by-Aan-die-oewer

Post Views: 213