Koerania

Ek is besig met my gewone gang toe die oproep kom: Sal jy asseblief saam met Francois Boyce van Hoezit Samelewing faam vanaf Kimberley na Orania reis en ook sommer sy lekker vertoning kom bywoon? Die uitnodiging beteken ook ‘n kuiertjie by my vriendin en dat ek saam met ander Kimberliete en Oraniërs tydens die vertoning kan kuier.
Ek pak met weinig beplanning die naweek na Orania aan. Van Hoezit samelewing weet ek nie veel nie; het al die man se gesig gesien en een keer lekker vir ‘n advertensie of ‘n video gelag, maar dis sover my kennis strek.
Natuurlik doen ek my navorsing. Ek kyk na Facebook videos wat om die beurt roerend of skreeusnaaks is. Ek kom toe ook Francois se onderhoud op ‘n oggendprogram op televisie teë. Tydens die gesprek hoor ek hom sê dat dit vir hom lekker sal wees as vrouens “beter kan voel” nadat hulle sy vertoning gesien en bygewoon het. En ek dag: “Ek hou van ‘so n man wat omgee vir vrouens.”
Die lag begin al in die motor op pad. Lientjie bestuur flink terwyl daar geklets word. Gedurende die volgende twee dae eet en drink ons uit die fontein van Orania se lekkerste kos en eetgoed. Dit is Melk en Heuning, Stokkiesdraai en Oewer Restaurant waar Francois getrakteer word. Sy massering by die Oewer Spa maak die nekspiere effe los en die bederf by Stokkiesdraai restaurant sorg vir die res. Hy maak ‘n video op sy #Hoezitsamelewing platform, want Aan-die-Oewer se blyplek is ‘n lus vir die oog en goed vir die siel.
Saterdagaand is daar baie van Orania se vroue in die gehoor– natuurlik rondom gesellige en mooi gedekte tafels. Gelukkig geld geen streng teater etiket nie want almal tik met die voet, wuif en klap hande en geniet die heerlikste eetgoed wat elke gasvrou voor gesorg het.
Francois beskryf die vyf vroue wat ‘n besondere impak op sy lewe gehad het, en daarmee saam kom ‘n deuntjie wat die roerende stories toelig. Die vroue dans en sing spontaan saam; ons lag vreeslik lekker. Mens sou kon dink ons drink onbehoorlik, maar nee, ons is onder die invloed van humor en opregte egte lewensdrama. Hy laat ons dankbaar dink aan geliefdes en al die kronkels en afdraaie op die lewenspad. Ons voel beslis beter.
Wie sou nou kon dink dat mens kan filosofeer oor die dieper dinge van die lewe terwyl jy laggend ‘n liedjie sing ?

Post Views: 124