Deur – Zelda en Hans van Staden
Die atmosfeer op die verhoog was eenvoudig betowerend, met die ou riempiesbank wat die gevoel van ‘n gesellige kuier saam met ou vriende op ‘n plaashuis se stoep geskep het.
Dana Snyman en Stef Kruger het hierdie atmosfeer laat lewe kry. Een deur sy grootword staaltjies met humor en nostalgie en die ander deur sy eksentrieke persoonlikheid en hande wat ‘n kitaar kan laat praat.
Stef Kruger is ‘n interessante karakter wat met sy lirieke en meesterlike kitaarspel bekoor. Sy staaltjies, “wat hy natuurlik as waar voorhou”, tesame met sy liedjies se dieper lirieke was ‘n mengsel van humor en diepte wat die aand ‘n spesiale tint gegee het.
Hy is ‘n veelsydige kunstenaar wat nie net lirieke skryf en toonset nie maar het ook ‘n paar skilderye en handgemaakte juwele saamgebring. Sy veelsydigheid en unieke styl het ‘n indruk gemaak, en alhoewel moderne kuns nie altyd my persoonlike voorkeur is nie, kon ek nie anders as om Stef Kruger se eksentrieke benadering te waardeer nie.
Dana Snyman se stories het my op ‘n tydreis na die verlede meegesleur, met ‘n mengsel van humor en onthou. Sy staaltjies uit sy grootwordjare het herinner aan my eie grootwordjare in ‘n klein gemeenskap waar almal alles van almal weet.
Sy stories het soms ‘n bietjie verlange na die verlede en ander kere ‘n herinnering aan dinge wat jy dalk eerder sou wou vergeet, ingehou. Sy vermoë om ‘n storie met humor en deernis te vertel het die gehoor laat glimlag en meeleef.
Saam het Dana Snyman en Stef Kruger ‘n vertoning gebied vol herinneringe, emosie en betowering, wat vir almal wat teenwoordig was, ‘n onvergeetlike ervaring gelewer het.
Definitief ‘n aand wat positief bygedra het tot Orania se kultuurgemeenskap!