Moenie die volgende Raar maar Waar misloop nie. Jy gaan verseker jammer wees. Die derde RmW het die vorige jaar werklik oortref. Die baie lag het elke spier in jou gesig laat oefen. Die twee spanne het met ‘n groot gedruis na die verhoog beweeg en toe kon jy al sien dat dit ń prettige aand gaan wees. Dit was Afsaal eiendomme se mansspan teen Koerania se damesspan!
Met tong in die kies is elke spanlid se naam geskommel om by sy of haar persoonlikheid te pas. Name soos 3-sel (Drizel Holtzhausen) en RuPlan (Ruaan van Dyk) is gebruik. Ek dink die spanlede het hulself verbaas met die uiteenlopende opvoerings, rympies maak en slimmighede wat hulle spontaan moes kwytraak, want tyd vir dink of voorberei is daar nie. Dit is juis die onverwagse oomblikke wat tot baie lag lei.
Die sombomme (Sumari de Wet en Jay Moore) wat telling gehou het was daar met hulle groot syferkaarte en moes kophou met punte bytel en strafpunte aftrek, want dit was ook nodig om Afsaalspan in toom te hou met hul raserige vuvuzela’s. Die geraas het Dia, die aanbieder, ‘n paar maal laat dreig om die blaasinstrumente iewerste te help bêre. Die “maak-my-siekfabriek” was uitstekend. Van die singende ds Ruan tot die talentvolle prokureur, Christelle. Dolf, die dromspeler, Adri op baskitaar en Ruben op die djembe het gehelp om die beste musiek en lekkerste saamsing te laat opklink.
Die gehoor was lekker aan die gang en het so tussen die lekker saam eet en saam speel passievol deel geneem om van die aand ‘n groot sukses te maak. Regter James, wat deeglik met voggies deur die Afsaal persoonlikhede omgekoop is, moes gedurig reg gehelp word met die telling… Die Koeraniaspan het voort gewoeker sonder veel omkopery. Helaas het die 2 spanne gelykop geeïndig. Die amusante, kleurvolle, vermaaklike aanbieder, Dia, het met ń pienk haasstert en bont onderbaadjie waarop ‘n magdom gehekelde blommetjies aangebring is, vir skaterende sêgoed gesorg.
Ons dorp, Orania, is altyd in die nuus met joernaliste wat ons gereeld besoek. Die Saterdagaand met Raar maar Waar het ‘n Italiaanse fotograaf en ‘n Franse fotograaf die eerste gedeelte van die pretaand meegemaak. Ek sal altyd wonder wat hulle gedink het toe ons klomp boere Afrikaners ons so gate uit geniet het. Wat het hul vir hul landsburgers in die fotobyskrifte en rubieke van die klein groepie burgers aan die Suidpunt van donker Afrika vertel? Mooi so Orania dit was ‘n heerlike aand van vermaak, vir ‘n goeie doel!