Vanessa is al vir ses jaar die dinamiese eienaar van die Orania Wassery. Volgens Vanessa is die algemene werk die was, droogmaak, stryk en opvou van klere en linne. Dié wassery lewer ‘n verskeidenheid dienste wat die was of stoom van algemene klerasie, manspakke, trourokke, linne, jasse en matte insluit.
Vanessa en haar man Peet woon reeds 16 jaar in Orania nadat hul voorheen in Kroonstad gewoon het. Vanessa het eers ‘n meubelwinkel bedryf, maar moes as gevolg van logistieke uitdagings die deure sluit. “Die grendelstaat het bygedra tot die uitdagings om voorraad van verskaffers wat ver van ons af is, te kry,” vertel sy.
Sy verduidelik dat kwaliteit diens beslis die rede is hoekom die wassery suksesvol is. Hulle poog altyd om die ekstra myl te stap vir hul kliënte deur seker te maak dat hul die klere of linne silwerskoon was en volgens hul versoek stryk.
Sy beaam dat daar ‘n goeie verhouding tussen werknemer en werkgewer moet heers om ‘n suksevolle besigheid te bedryf. “Kommunikasie is uiters belangrik en dra by tot goeie werksverhoudinge wat die werk vir almal aangenaam maak en kliënte kan duidelik sien as daar ‘n gemaklike atmosfeer by ‘n besigheid heers.” Haar glimlag spreek boekdele as sy vertel dat Annatjie Joubert, by wie sy haar besigheidsperseel huur, haar ‘n hupstoot van motivering gegee het deur ‘n perseel vir haar beskikbaar te stel vir die wassery.
Dié talentvolle vrou is ook ‘n bakster van formaat. Sy lewer gebakte produkte aan ‘n plaaslike winkel wat dit namens haar verkoop. Dié gebak sluit sjokoladekoek, soetkoekies, klapperys, fudge en vele ander soetigheid in.
Wanneer sy gesels oor die belangrikheid om die regte personeel aan te stel raak sy ernstig, want sy wil vir ander werkgewers aanbeveel om seker te maak oor die profiel van ‘n werknemer voordat hul enige persoon in diens neem. “‘n Werknemer kan jou besigheid maak of breek. Maak seker oor jou keuses.”