Koerania

Paul Vogel, uitvoerende hoof van die Bo-Karoo Opleidingsentrum (BKO) het met dankbaarheid ‘n glasie gelig om die amptelike opening van die werkswinkels vir die ambagstudente te vier. Hy het op Woensdag 28 Februarie tydens ‘n keurige kuierstoepfunksie almal teenwoordig bedank dat hulle die volgende fases van BKO se ontwikkeling saam vier. Die nuwe kenteken van BKO is onlangs bekendgestel en die inwyding van nuwe werkswinkels en ander fasiliteite is bykomende hoogtepunte. Die eerste vier klaskamers en die kuierstoep is vroeër al ingewy en Paul vertel dat dit alles bydra tot gehalte opleiding en arbeid.
Op 1 Desember 2023 het personeel en studente die groot trek na die nuwe perseel aangepak en op 12 Januarie 2024 kon die nuwe studente hul intrek neem. Hy som die afgelope paar maande se werk met die woord dankbaarheid op. Hy kyk met waardering terug op die reis wat BKO tot hier geneem het. BKO het in 2019 met vyf studente begin en vandag is daar 130 studente met vyf programme, vier koshuise, waarvan een ‘n daghuis is, 17 personeellede, ‘n Leer-my-hoe proefplaas en meer.
Stef Pretorius, Solidariteit: Beroepsnetwerk Koördineerder: Ambag & IT, noem dat die Solidariteit Ambagsnetwerk se resep ‘n deurwinterde resep is waar jy begin deur studente goed op te lei. Daarna kry jy bekwame mense wat in die beroep staan en snoer hul saam in ‘n netwerk. Volgens hom maak die vaardigheidsbank van suksesvolle persone dat sukses uit die plan kan voortspruit.
Die jaarlikse Jou yster-kompetisie het gedurende 2023 landwyd meer as 1 000 inskrywings gehad.
Rozanne Heroin, ‘n internasionale sweiser, was 2023 se Jou Yster wenner. Pieter Roux was 2022 se wenner en het reeds diep spore getrap in terme van vaardigheid, maar het in die vaardigheidsnetwerk soveel geleenthede gekry om as mens in die volgende generasie terug te ploeg.
Die dag wat jy die kennis as ambagsman in die werkplek begin toepas, ontwikkel jou vaardighede werklik eers.
Pieter Roux het vir die gehoor vertel hoe hy as kind saam met sy pa in die fabriek gewerk het en daar reeds ‘n liefde vir die ambagte ontwikkel het. ‘n Tegniese hoërskool het sy liefde net verder geprikkel en hy het homself as gereedskapmaker bekwaam. “Ek het by elke fabriek daarvan werk gemaak om te sien wie kwaliteit werk lewer en by wie ek meer kon leer. Ek het daardie persone as mentors gesien en kon vinniger meer van ‘n wye verskeidenheid ambagte leer. Hy was nog jonk toe hy besluit het om nie vir ‘n baas te werk nie, maar sy eie potjie te krap. Hy was ook gretig om aan ‘n nalatenskap te werk en daarom betrek hy jongmense in sy eie besigheid sodat hy sy kennis kan oordra. “Ek voel dat ons kennis aan die geslag van more moet oordra,” vertel Pieter
Willie Venter is Solidaritet se Adjunkhoofsekretaris: Metaal en Ingenieurswese. Volgens hom was daar die afgelope twee dekades ‘n afwesigheid van trots vir ambagte. Hy verduidelik dat die trots vir ambagberoepe stadig maar seker herstel. Gemeenskappe aanvaar ambagte meestal as vanselfsprekend, maar die praktiese nut vir dié beroep word onderskat.
Hy vertel van die Jou Ysterkompetisie se adviesraad wat uit tien paneellede bestaan wat self formidabele ambagsmanne insluit. Die erkenning wat aan studente gegee word omdat hul meesters van hul ambag is of word, lewer volgens hom ‘n groot bydrae tot die volhoubare kwaliteit van hul werk. “Puik studente wat erkenning kry sal ander studente motiveer om goeie vakmanne te wees en die instelling sal daardeur ook erkenning kry dat hul kwaliteit opleiding bied.”
Die beste vakleerlingkompetisie is deur die Solidariteit Ambagsnetwerk aangekondig en dit sal as Die Jong Reus toekenning bekendstaan. Bo-Karoo Opleiding sal die beoordeling van die wenners hanteer.
Dr Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit en direksielid van BKO, het sy aanvanklike ondervinding as jongman in Orania met die gehoor gedeel. Hy vertel dat Orania jare gelede eerder as ‘n ruimte beskryf kon word as ‘n plek. “Intussen het dit ‘n plek geword wat persoonlikheid en karakter begin kry het. Die mense wat begin intrek het en stories begin vertel het, het gemaak dat hier geleef word. ‘n Plek ontwikkel die hele tyd,” het hy gesê.
Hy raak opgewonde wanneer hy deel dat BKO ook nou ‘n plek is wat begin karakter ontwikkel en persoonlikheid kry omdat daar mense is wat deel van BKO vorm. “Die werkswinkels kon net ‘n ruimte wees, maar die ontwerp van die gebou en die toerusting in die gebou word deel van die storie van BKO,” vertel Hermann.
Hy komplimenteer die argitek, Christiaan van Zyl, omdat hy plek verstaan en dit so ontwerp het. Die feit dat die gebou mooi is en goed lyk beteken dat studente en hul ambag gerespekteer word. “Daar is adelheid in die ambag en daarom moet daar adelheid in die plek en gebou wees,” vertel hy..
Paul beskou dit as ‘n voorreg om deel van die Orania gemeenskap te kan wees, en sien daarna uit om saam met die gemeenskap te groei. Hy het werkgewers bedank wat die studente insluit om hul praktiese vaardighede te ontwikkel en as mentors vir studente optree. “Hou ons dop, ons het nog net begin,” het hy mee afgesluit.

Post Views: 108